Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Wendy se wonderwerke
18 April 2018

Dit was ’n groot terugslag vir Wendy Anthonie van Beaufort-Wes toe ’n operasie om ’n breingewas te verwyder haar voorkoms heeltemal verander én haar doof gelaat het. Sy kon kies om terneergedruk te bly of op te staan.

Vandag is sy nie spyt sy het besluit om te veg nie, want op 64 bewaarheid sy haar drome die een ná die ander. Sy het net ’n matrieksertifikaat, maar vandag is dié ma van drie ’n skrywer, dig-ter, vryskutjoernalis, liedjieboer, drama-turg en motiveringspreker.

Kuier-lesers sal ook haar naam herken, want ’n paar van haar rubrieke het al in die tydskrif verskyn. Een van Wendy se grootste drome het ook vanjaar waar geword. Sy het haar eie toneelstuk, Sai & Katallies (se Long Walk to Freedom), geskryf vir die Suidoosterfees wat van Donderdag 26 April tot 1 Mei by Artscape in Kaapstad plaasvind.

“Die storie is een waarmee ek grootgeraak het,” vertel sy. “Plaaswerkers wat jare op veral skaapplase gewerk het, maar sonder seremonie afgesit is sodra hulle onproduktief begin raak het.”

Die storielyn is ligweg gebaseer op die bekende Boesman en Lena-verhaal, maar met ’n Karoo-kinkel en gekoppel aan Nelson Mandela se vrylating in 1990. “In ons soeke na ontsnaproetes uit ons ‘tronke’ vergeet ons soms die sleutel van die sel in ons broeksak. Die karakters, Sai en Katallies, se long walk to freedom wys daarop – al stap jy fisies agter vryheid aan, al vlug jy landuit, sal jy nooit vrykom van bitterheid as jy nie vergewe nie,” vertel Wendy.

Katallies wil graag ’n onderwyser of ’n digter word en hy smag na vryheid – verlossing van ’n tiran-baas en sy eie swakkeling-self. Ná politieke onluste op die plaas word Katallies, die getroue werker, van die plaas afgesit. Hy en Sai stap deur die Karoo om in Kaapstad te wees die dag wanneer Mandela vrygelaat word. Hy haal sy wrok teen sy vorige werkgewer en die lewe op Sai uit en slaan haar. Sai smag self na vryheid van Katallies se vuiste.

Storie kry self lewe

Die storie het amper homself geskryf, sê Wendy. “Nadat ek die konsep ontwikkel het, was dit ’n kwessie van minute toe is die storie klaar!” vertel sy opgewonde.

Wendy en haar karakters se lewensverhale verskil dalk, maar syself weet goed hoe ons soms kan toelaat dat ons omstandighede ons gevange hou.

In 1994, ná 21 jaar as skoolsekretaresse op haar dorp, is Wendy met ’n gewas op die brein gediagnoseer en moes sy ’n tien uur lange operasie ondergaan wat haar voorkoms heeltemal verander het, maar haar lewe kon verleng.

“Ek het aanvanklik die Here kwalik geneem. Ek was van kleins af die lelike eendjie van my gesin en hier laat Hy my skeef én doof ook nog word,” vertel Wendy. Ná die operasie het sy met baie gesondheidsprobleme gesukkel, maar nooit in sak en as gaan sit nie. Sy het besef die lewe skuld haar niks en haarself weer opgerig en afgestof. “My Kapenaar-pa se woorde in my klein-tyd het my bygebly: ‘Wil jy mooi wees of wil jy slim wees?’,” onthou Wendy.

Sy het altyd by hom gekla as ander haar ‘lelik’ of ‘kroes’ genoem het. “Met sy hulp het ek ’n voorliefde vir kennis en veral woorde begin kry.

Op vyf kon ek byna al Shakespeare se een- en tweesprake verbatim opsê,” vertel sy met ’n trotse glimlag. Nie net was Wendy Beaufort-Wes se eerste toerisme-beampte nie, maar sy het haar eie onderneming, Horizon-teater, gestig en was die programbestuurder van die dorp se eerste gemeenskapsradio, Gamka FM. Wendy vertel haar forte is om mense goed te laat voel oor hulself.

Met haar gemeenskapsteater probeer sy om die jeug te bemagtig, werk te skep en ’n platform vir plaaslike talent te bied. Wendy se eie teaterdrome het in 2009 begin vlerke kry toe sy vir die eerste keer backstage op ’n professionele produksie by Artscape gewerk het. Sy het haarself daardie dag belowe sy sal terugkom. In 2012 het sy besluit sy sal deel wees van die Suidoosterfees.

En vandag is dit ’n realiteit. Wendy droom ook van haar eie koffiewinkel, ’n gratis teater op haar dorp, haar eie vervolgverhaalreeks op die radio en soveel meer. En met Wendy se lewensmotto, “If you can see it, you can be it!” is dit net ’n kwessie van tyd voor als realiseer! . Moet ook nie Wendy se Wat die Hart van Vol is in hierdie uitgawe misloop nie.

Moenie misloop nie!

Kyk ook uit vir die volgende Suidoosterfees-produksies:

Rokkie met Charlton George; Fiela se Kind met Shaleen Surtie-Richards; Kaapse Khoi Jazz II (’n musiekproduksie met onder andere Camillo Lombard); Karoo Swing innie Kaap (’n musiekproduksie met Emo Adams, Katlego Maboe en Bobby van Jaarsveld); 3 Tons of Fun & Uncle Cal; en die Jakes Gerwel-gesprekke.

Meer oor:  Verhoogstuk  |  Kuier  |  Vermaak  |  Suidoosterfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.