Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Werk: Hoe om aan te pas en waarvoor om te soek
15 Oktober 2020


Die pandemie het wêreldwyd ’n ekonomiese “bloedbad” veroorsaak en in Suid-Afrika het meer as drie miljoen mense reeds hul werk verloor sedert die begin van lockdown. Die land se werkloosheidsyfer het in die eerste kwartaal van die jaar tot 31,1% opgeskiet – die hoogste sedert 2008 – en sommige mense voorspel dit gaan tussen 50% en 60% wees teen die einde van die jaar.

Uit die 23,5 miljoen mense wat kan werk in Suid-Afrika, sit sewe miljoen sonder werk. Die werkloosheidsyfer het volgens Statistieke Suid-Afrika in die 2de kwartaal verbeter, maar die nasionale tesourie het in Junie voorspel nog sewe miljoen mense kan voor die einde van die jaar hul werk verloor as die ekonomie nie weer heeltemal heropen nie.

Die pandemie het ook die werkplek en werkvooruitsigte heeltemal verander. Party werke, soos e-commerce is deesdae meer in aanvraag, terwyl ander bedrywe soos die media, amper heeltemal geherstruktureer is en restaurante links en regs moes toemaak.

Verander vinnig

Lizette Oliver, ’n industriële en bedryfsielkundige van Bellville in die Kaap, vertel selfs lank voor die pandemie het organisasies al begin worstel met die “Vierde Industriële Revolusie” of VUCA, waar die werkplek onvoorspelbaar en chaoties is. “Dit is ’n omgewing wat dit moeilik maak vir HR-departemente om te voorspel watter tipe werke nodig gaan wees in die toekoms,” meen sy.

Die onsekere tye beteken dis moeilik om te weet vir watter tipe werk om aansoek te doen, en wat jou kinders moet studeer. Catharina van Rooy (43) van Port Elizabeth in die Oos-Kaap, is die ma van ’n matriek-leerder en baie bekommerd oor haar seun se toekoms. “Die kind wou gaan leer vir die toerismebedryf, maar soos dinge nou lyk, is ek bang daar is nie ’n toekoms vir hom nie. Dit laat my nagte lank wakker lê en worry,” vertel sy. Lizette sê selfs voor Covid-19 was dit moeilike vrae om te beantwoord.

“Die pandemie het net baie van hierdie probleme ge-fastforward, wat dit nog moeiliker maak om jou loopbaan te beplan. Wat ons vir seker weet, is dat werknemers moet leer om baie meer aanpasbaar en flexible te wees om in die werkwêreld te oorleef.” Marius Meyer van die Universiteit Stellenbosch se departement van bedryfsielkunde sêbaie besighede is onkant gevang omdat hulle die laaste paar jaar gesloer het veral in terme van tegnologie en digitale besighede.

“’n Voorbeeld hiervan is juis die media wat al vir meer as 10 jaar gewaarsku is om meer internetpublikasies te lewer. Ek is bewus van een koerant wat so ’n strategie in 2010 moes oorweeg, en afgekeur het, gevolglik het hulle toegemaak tydens die grendeltyd. Dieselfde het met sekere tydskrifte gebeur.”

Volgens hom is daar ander beroepe wat weer tydens die pandemie floreer. “Gesondheidswerkers is die helde van die Covid-19-era. En natuurlik het sanitasie, vitamienvervaardigers en -verkopers en aptekers goed gedoen weens die behoefte aan hul dienste. Die noodsaaklike werkers het bloot voortgegaan om hul dienste te lewer ten spyte van die grendeltyd.”

Ander mense wat goed gedoen het, volgens Marius, is diegene wat voortgegaan het om hul werk te verrig ten spyte van die moeilike situasie. “Dit hang af van hoe aanpasbaar die beroepe en hul organisasies en ondersteuningstelsels was. Goeie skole se onderwysers het oornag aangepas, terwyl swak skole se onderwysers voortgegaan het om swak werk te lewer, omdat hulle tegnologies onbevoeg is.”

Beweeg met die tye

Maar een ding is seker: almal is gedwing om nuut te dink oor hul beroepe en loopbane. “ ’n Dokter wat byvoorbeeld net gewag het vir pasiënte, het swaargekry, terwyl dié wat proaktief na hul pasiënte uitgereik het, beter gevaar het. Oor die algemeen het baie staatsamptenare voortgegaan om swak diens te lewer (byvoorbeeld polisie, weermag, munisipaliteite), veral omdat hulle reeds ver agter met tegnologie en kliëntediens is. Die kommunikasie- en sosialemediaspesialiste van nasionale en provinsiale regeringsdepartemente het egter goed gevaar, want hulle het hul platforms goed benut om te kommunikeer met die publiek.

Bankamptenare en betaalrolamptenare was ook puik en het van die huis af voortgegaan met hul werk,” verduidelik Marius. Wanneer dit by mense kom wat noodgedwonge van die huis af moes werk, lyk die situasie ook anders. Lizette sê work from home is nie ’n langtermynoplossing vir baie mense nie.

“Party mense werk net beter in spanne as op hul eie en party huishoudings kan net nie cope met die ekstra chaos wanneer almal by die huis is nie.” Jan Truter, besturende direkteur van Labourwise, voel hoewel die gasvryheidsbedryf besonder hard getref is, is dit merkwaardig hoe die meeste ondernemings in dié bedryf nog steeds kop bo water hou.

“Ten einde permanente aflegging te vermy, het werkgewers en werknemers in talle gevalle op tydelike aflegging of korttyd ooreengekom. Dit het vir werknemers ten minste werksekuriteit gebied terwyl hulle geld van die werkloosheidsversekering kon eis (met gemengde sukses). Werkgewers kon dus spaar op hul grootste uitgawe (lone) en dit was nie nodig om die uitgawe van skeidingslone – wat met permanente aflegging gepaard gaan – te betaal nie.”

In Jan se ervaring het baie werksgeleent-hede verlore gegaan, maar tog het talle as gevolg van vindingryke strategieë behoue gebly. “Baie werkgewers en werknemers tot hulle verbasing ‘ontdek’ dat hulle meer produktief van die huis af kon werk.”

Hoewel ondernemings wat met inligtingstegnologie te make het ’n ongekende aanvraag beleef, staar hulle ander uitdagings in die gesig. Dit sluit in ’n tekort aan vaardige IT-spesialiste. Dis veral in die IT-veld waar ondernemings verkies om werkers aan hul uitsette te meet en nie aan hul aantal werksure nie. Dis selde nodig om van ’n sentrale kantoor af te werk. Die werke wat volgens Lizette die swaarste gekry het tydens die pandemie, was diensleweraars soos restaurantwerkers, sekuriteitswagte, skoonmakers, klerke en kantoorwerkers – enigiets waar jy “on site” moet wees.

Verder is die kunste en vermaaklikheidsbedryf ook gekniehalter. Eienaars van klein besighede en entrepreneurs het ook aan die kortste ent getrek. Verder het konstruksiewerkers en myners, verkopers, vervoerpersoneel, sekere fabriekswerkers en herstelwerkers swaargekry. “Ek was vir sewe jaar ’n kelner by ’n restaurant in Kaapstad,” vertel Sophia Clarke (38) van Mowbray in die Kaap.

“Ek was op pad om ’n bestuurder te raak toe die pandemie-ding ons tref. Nou sit ek heeltemal sonder werk en het nie ’n clue wat ek moet maak om die pot aan die kook te hou nie. Om mense te bedien, is al wat ek ken,” sug sy moedeloos. Lizette se raad is om jou versigtig oor jou huidige vaardighede na te dink.

“Byvoorbeeld, jou customer service-vaardighede wat jy by die restaurant geslyp het, kan nou oorgeskakel word na aanlyn customer support.” Haar raad is om al jou vaardighede neer te skryf en dan te bepaal hoe jy dit kan aanpas om by die “nuwe wêreld” te pas en jouself dan aggressief te bemark. Vir jong mense wat nog hul loopbane moet begin, raai Lizette aan om tegniese beroepe soos loodgieter, elektrisiën, meganiese ingenieur, aptekerswese, finansiële bestuur en enigiets IT te oorweeg.

Ontwikkel skills

Marius meen alle beroepe sal digitale en tegnologievaardighede moet ontwikkel, ongeag die besigheid, byvoorbeeld prokureurs, predikante, eiendomsagente. “Indien hulle dit nie doen nie, sal hulle nie kan kompeteer in die mark nie.” “Ek wil ook voorspel dat alle beroepe by die toekomstige werksomgewing moet aanpas, en dat die konsep van hibriede werk (kombinasie van tradisionele kantore en afstandswerkers) gaan uitgebou word.

Die meeste werkers wat by hoofkantore gewerk het, sal meestal van die huis af werk en ons gaan ’n verdere groei in vryskutwerk sien,” sê Marius. Om die pandemie en die onsekerheid van die toekoms te oorweeg, is dit kardinaal vir mense om te weet waarin hulle goed is en hierdie vaardighede te ontwikkel volgens die huidige werksmark. Aanpasbaarheid en die bereidwilligheid om geleenthede raak te sien en aan te gryp, sal jou oorlewing beteken.


Werk in aanvraag

Volgens Marius Meyer sal dié beroepe post-Covid-19 in aanvraag wees:

• Internetbesighede

• App-ontwikkelaars

• Data-analiste

• Wetenskaplikes

• Dieetkundiges

• Loopbaanvoorligters

• Mediese spesialiste

• Maatskaplike werkers

• Sielkundiges

• Lewensafrigters

• E-leer-spesialiste

• E-bankiers

• E-versekeraars

• Groengebou-ontwerpers

• Omgewingspesialiste

• Projekbestuurders

• Higiëne-spesialiste

• Bemarkers

• Virtuele assistente

• Digitalebesigheidspesialiste

• Sosialemediaspesialiste

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.