Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Werk reg met jou geld
30 Oktober 2019


Die Afrikaanse sanger Lucas Maree se liedjie “Ek sou kon doen met ’n miljoen” was destyds ’n groot treffer en menige wat al ooit gewens het vir ’n ekstra geldjie, het hardop saam met Lucas gesing omdat hulle drome gehad wat net geld kan waar maak. Maar al droom baie van ons ons word kitsmiljoenêrs deur byvoorbeeld die Lotto of Powerball te wen, maan kenners dis ewe stresvol om geld te hê as om dit nié te hê nie.

En, waarsku hulle, as jy nie weet hoe om jou miljoene reg te bestuur nie, kan jy sommer baie gou weer platsak wees en in sak en as sit. Alexa Barends (36) van Muizenberg in Kaapstad beaam wat die kenners sê. Sy en haar man, Brandon (38), is albei in die eien-domsbedryf en hulle het vyf jaar gelede albei ’n paar goeie kommissies gemaak en binne die bestek van agt maande miljoenêrs geword.

Hulle kon uiteindelik bekostig wat hulle wou. Die stres van maand tot maand lewe het ligter geword, maar hul stres en angs het egter meer geword. Want binne ’n oogwink was hul nettowaarde skielik R12 miljoen en dit was ongelooflik baie vir twee mense wat uit ’n middelklas-agtergrond kom. Hul families was nie ryk nie en albei het met studiebeurse gaan swot.

Hul rykdom het nie alles op een slag gekom nie, maar oor ’n tydperk van agt maande, maar omdat hulle geen planne in plek gehad het of geweet het hoe om die geld te bestuur nie, is hulle vandag amper weer waar hulle begin het.

Droog op

“Groot was die verrassing toe die geld eendag skielik op is. Ons het ’n groot huis in ’n welgestelde buurt gekoop, ons het nuwe motors gekoop, elke dag uitgeëet, ek het my werk gelos en ons het op luukse vakansies gegaan met net die beste babagoed vir ons kleintjie. Dit het vir ’n jaar of twee goed gegaan en toe maak my man se maatskappy toe en hy kon nie onmiddellik weer werk kry nie,” vertel Alexa.

Maar in plaas daarvan om af te skaal, het hulle met minder inkomste dieselfde leefstyl probeer handhaaf, maar nooit finansieel weer sterk geword nie. Hulle moes ’n motor verkoop en op hul huis afskaal. Hulle lewe tans ’n middelklas-lewe, maar is gelukkig en sê hulle sal beter beplan as hulle weer geld het. Sheldon Plaatjies (53) van Parow in die noordelike voorstede van Kaapstad het ook gedink sy drome het waar geword toe hy twee jaar gelede op vakansie R1,5 miljoen by Sun City gewen het.

Min het hy geweet om skielik ryk te word, sou meer stres veroorsaak as om arm te wees. Skielik wou familie en vriende almal geld leen en het hulle aanvaar hy sal vir alles betaal. Hy het nie geweet hoe om nee te sê nie en het al hoe meer teruggetrokke geraak. Hy het besluit hy gaan aftree en van sy geld lewe, maar hy het nie die regte advies gekry nie en slegte beleggings gemaak.

“Toe ek die geld wen, was ek heeltemal geskok. ’n Mens hoop altyd dit gaan gebeur, maar ek het nooit gedink dit sal regtig gebeur nie. Ek kon nie glo hoe mense se houding teenoor jou verander nie en dit het mý ook toe laat verander, want ek het nie meer geweet wie om te vertrou nie. Maar om op my eie te wees en my geld te geniet, was ook nie die antwoord nie, want toe maak ek ’n paar slegte besluite en netso is alles weg,” sê hy.

Raak gewoond

Dr. Elana Roux, ’n sielkundige van Kaapstad, sê een van die grootste probleme vir mense met “skielike rykdom-sindroom” is hulle kry nie veel simpatie van ander nie. “Vir iemand wat nog steeds sukkel met ’n minimum inkomste, is dit moeilik om te verstaan hoekom ’n buurman wat so pas in die Lotto gewen het, dit moeilik kan vind. Mense met nuwe rykdom durf nie met hul vriende en familie praat oor hul stres en angs nie, want hulle dink dit laat hulle arrogant lyk,” verduidelik sy.

“Net wanneer die rykes onseker begin voel oor hulself, tree ander in hul lewens ook dikwels anders teenoor hulle op. Vriende en familielede na aan hulle behandel hulle met onbeskoftheid of minagting en die rykes begin eensaam en geïsoleer voel wanneer hul ou vriende onttrek. En wanneer mense nice is, verbeel hulle hulle dat hierdie mense dalk net wag vir hulle om geld uit te deel en om geld te leen.”

Sy voeg ook by dat kitsmiljoenêrs se eie gedrag ook dikwels deel van die probleem is. Hul nuwe rykdom gee hulle die vryheid om te kan reis en ander luukshede te geniet wat sommige vriende nie kan bekostig nie. Soms probeer die nuwe rykes die sosiale gat in hul lewens vul deur nuwe vriendskappe te vorm met mense wat dieselfde leefstyl deel. Maar soms is dít ook nie ’n goeie ding nie.

Beplan reg

Robert Grey, ’n finansiële beplanner van Johannesburg, sê swak beplanning is die grootste fout wat mense maak en een van die redes hoekom mense wat skielik ryk word in minder as drie jaar weer terug is waar hulle begin het of soms slegter af is. Maar hy sê dit hoef nie só te wees nie en as jy ’n paar basiese beginsels volg, kan jy jou rykdom vir jare geniet en selfs vir die volgende generasie ’n bietjie hou. Bo-aan die lys, is dit belangrik dat jy jou nuwe rykdom stilhou, sê Robert.

Hy meen hoe minder mense daarvan weet, hoe beter. “Bly stil. Dit sal die druk verminder en verhoed dat familie, vriende, besighede en selfs liefdadigheidsorganisasies jou bombardeer met finansiële versoeke.” Hy raai mense ook aan om vinnige finansiële besluite te vermy. “Moenie ’n vinnige besluit neem oor hoe jy jou nuwe rykdom gaan spandeer of belê nie.

Vermy beloftes, finansieel of andersins, totdat jy presies weet hoeveel jy het.” Voordat jy geld kan spandeer, moet jy eers bepaal hoeveel jy het. Robert raai mense aan om eers seker te maak oor die onkostes soos belasting of regskoste wat gepaard gaan met jou nuwe rykdom.

“Soms wen mense R2 miljoen en dan kry hulle maar eintlik net R900 000 uit. Mense besef dit nie altyd onmiddellik nie. Moenie geld spandeer wat jy nog nie in die bank het nie.” Nog ’n belangrike stap is om doelwitte te stel. Robert sê sodra jy weet hoeveel geld jy het, kan jy begin dink oor hoe jy dit wil spandeer. “Dink aan kort- en langtermyndoelwitte. Jy kan dit in vier kategorieë verdeel soos leefstyl, familie, toekoms en liefdadigheid.

Bly stil. Dit sal die druk verminder en verhoed dat familie, vriende en liefdadigheidsorganisasies jou bombardeer met finansiële versoeke.

Stel ’n begroting op en hou daarby.” Wanneer jy weet wat jou spesifieke doelwitte is, raai hy mense aan om ’n finansiële adviseur aan te stel. “Hulle sal jou kan help om uit te werk hoeveel geld jy vir elke kategorie kan uitsit. Hulle kan jou ook help om vas te stel hoeveel jy elke jaar kan spandeer, sodat jou geld hou. Hulle kan jou ook help met goeie beleggings om jou geld op die beste manier te benut,” is Robert se raad.

Die laaste belangrike stap is om gewoond te raak aan jou eie rykdom en om jou toegang tot jou eie geld dop te hou. Hy sê as jy weet jy spandeer maklik geld, is dit belangrik dat jy jou geld wegsit in plekke waar jy nie maklik daarby kan kom nie soos sekere bankrekeninge, ’n huis wat kontant gekoop is, in ’n spaarrekening vir jou kinders se universiteitsfooie of selfs in ’n aftreefonds.

Ons almal droom daarvan om ryk te word en finansieel te kan ontspan, maar as dit vir jou gebeur, gaan dit nie altyd maklik wees om jou rykdom te behou nie. Maak seker jy kry die nodige hulp en advies sodat meer geld nie méér probleme vir jou veroorsaak nie!

Meer oor:  Kuier  |  Raad  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.