Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Wiskunde-pret: Juffie laat leerders vak geniet
8 Januarie 2020

Terwyl ons in ’n era is waar kinders met hul hele wêreld in die palm van hul hand sit en heeldag teen ’n skerm vaskyk, glo die wiskunde-onderwyser Lizette Booys van Eersterivier in die Kaap onderwysers kan nie meer net voor ’n bord klasgee en dink die leerders gaan luister nie. Vandag se kinders wil gestimuleer word en daarom verg dit al hoe meer kreatiwiteit om hul aandag te hou.

Dié 28-jarige onderwyser gebruik daarom humoristiese sosiale media-video’s en praktiese voorbeelde om wiskundige beginsels te verduidelik. En haar metodes werk, want aan die einde van verlede jaar het haar hele klas wiskunde geslaag. Selfs die leerders wat aan die begin van die jaar gesukkel het. Maar dit is nie net haar wiskunde-leerders wat aanklank by haar video’s vind nie.

Haar Facebookblad Wiskunde Juffie het meer as 6 500 likes en wanneer sy een van haar gewilde video’s oplaai, kry dit ongeveer 1 000 tot 28 000 views. Met ’n aansteeklike lag en borrelende persoonlikheid maak sy wiskunde sommer baie pret. Vir dié onderwyser dien enige onderwerp as inspirasie of ’n manier om kinders te wys hoe om wiskunde te doen.

Lizette glo jy kan nie meer vandag net uit ’n boek uit leer nie, jy moet vir kinders ook praktiese voorbeelde gee sodat hulle regtig die werk kan verstaan. “Alles rondom ons kan as ’n voorbeeld gebruik word. Wanneer dit byvoorbeeld kom by vorms, is alles waarmee ons in aanraking kom ’n 2D- of 3D-voorwerp. Nadat ek ’n konsep verduidelik het, vra ek die leerders om by die huis te gaan kyk vir voorbeelde. Hulle maak dan ’n lys en deel dit met die klas, sodat ek kan sien of hulle die werk verstaan,” sê sy.

Sy het gevind hierdie metode werk soos ’n bom en dat leerders sodoende konsepte makliker onthou. Een van haar gewildste video’s is een waar sy gradiënte verduidelik. In die video gebruik sy trappe om daling of styging uit te beeld en te verduidelik. Sy laat kinders ook sommer self op die trappe klouter, want as jy in haar klas is, gaan jy baie aktief wees.

Lizette het van kleins af ’n passie vir wiskunde.

Passie daarvoor

Lizette se entoesiasme vir wiskunde is onmisbaar en wanneer sy eers daaroor begin praat, kan jy haar nie keer nie. Sy het ook heel toevallig verlede jaar met die video’s begin toe sy ’n bietjie van ’n af tyd gehad het. Die inhoud vir die meeste van haar video’s word deur haar interaksie met verskeie mense of gebeure gedurende haar dag geïnspireer. Sy was baie verbaas oor die reaksie op haar eerste video.

Mense het gedink sy is snaaks, maar sy kon ook deur hul kommentaar agterkom dat hulle met haar inhoud kan identifiseer. “Almal ken iemand wat met wiskunde en skoolwerk gesukkel het. Dalk is jy self daardie persoon en lag jy dan juis vir jouself.” Vanaf haar skooldae was wiskunde haar gunstelingvak, maar sy het nooit haarself as wiskunde-onderwyser gesien nie. Sy het ook nie ’n begeerte gehad om ’n onderwyser te word nie. Sy wou graag ’n argitek soos haar pa, Trevor, word.

Maar haar ma, Elizabeth, het teen die karre geskop en haar mooi laat verstaan daar is net twee opsies. Haar ma het altyd gesê sy moet kies tussen ’n onderwyser en verpleegster, want daar sal altyd kinders wees wat moet leer en siek mense wees wat versorging nodig het.

“My pa is ’n argitek en siviele ingenieur en dit was hy wat altyd sou vra wat van die 1% geword het as jy 99% vir wiskunde gekry het. Dit is waar my liefde vir wiskunde vandaan kom en al het hy nogal baie druk op my gesit, was dit lekker omdat ek baie van ’n uitdaging hou.” Sy het soveel daarvan gehou dat sy reeds op skool vir ander kinders privaat lesse begin aanbied het.

Uitdaging vir leerders

Ná matriek het sy haar honneursgraad in onderwys op Stellenbosch verwerf, voordat sy haar loopbaan as hoërskoolonderwyser begin het. Maar ná drie jaar het sy besluit om eerder ’n skuif na laerskoolonderrig te maak. Lizette beskryf haar kort tydjie as hoër-skoolonderwyser as ’n massiewe uitdaging. Sy gee steeds private wiskundelesse vir leerders vanaf graad 4 tot graad 12, maar dit was eers gedurende haar ondervinding op hoërskool dat sy agtergekom het hoe erg kinders eintlik met wiskunde sukkel.

Ek het ’n kind in graad 8 gehad wat vir my gevra het: ‘hoe bedoel Juffrou plus?’. Hy het nie geweet hoe om ’n eenvoudige som te doen nie.
Lizette Booys

Volgens Lizette lê die probleem nie alleenlik by die dissipline nie, baie kinders kan nie die groot gap tussen laerskool- en hoërskool-wiskunde oorkom nie. “Ek het ’n kind in graad 8 gehad wat vir my gevra het: ‘hoe bedoel Juffrou plus?’. Hy het nie geweet hoe om ’n eenvoudige som te doen nie. Ek moes lyne trek en verduidelik hoe hy moet tel, ” sê sy. “Dit is toe ek besef kinders ken nie basiese wiskunde nie en ek het besluit hulle verdien beter.”

Sy wou weet wat op laerskool gebeur om te veroorsaak dat kinders nie beter voorbereid is wanneer hulle hoërskool toe gaan nie en dis toe sy besluit om die skuif te maak. Sy het ook besef as sy werklik kinders wil help om beter in wiskunde te vaar en veral daarvan te hou, moet sy op laerskoolvlak begin.

Volgens haar is dit verstaanbaar dat kinders nie regtig van wiskunde hou nie, maar wanneer jy in graad 2 of 3 is, voel sy jy het nog nie genoeg ervaring daarmee gehad om te besluit of jy daarvan hou of nie. Vir haar is dit heeltemal onaanvaarbaar wanneer klein kinders alreeds wiskunde haat. Lizette meen dis juis dan jou plig as onderwyser om die vak vir hulle lekker en interessant te maak.

Volgens haar is die eerste groot geveg om hulle sover te kry om te konsentreer, maar sodra hulle aandag daar is, is die stryd reeds halfpad gewonne. Dit is hoekom sy besluit het om aan te hou met haar video’s en vorentoe sal sy graag ná skool leerders ook wil kry om meer opvoedkundige video’s te maak wat ander onderwysers en kinders sal kan gebruik.

Lizette vertel skaam sy wou aanvank-lik nie hê haar leerders en ouers moet van haar video’s weet nie, maar die aard van sosiale media beteken dat dit nooit ’n geheim kon wees nie. Nou geniet sy die verskillende karakters en onderwerpe en word sy juis ook deur ouers geïnspireer.

Lizette voel die nuwe generasie is nie ’n verlore generasie nie. Hulle kort net aandag en mense wat saam met hulle en tye kan beweeg. Haar droom is om eendag ’n groot wiskundesentrum te kan open sodat soveel meer kinders met tegnologie, coding en ander wiskunde groot dinge kan bereik in die toekoms.

Meer oor:  Kuier  |  Wiskunde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.