Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Wonders met Wiskunde
09 Januarie 2019

Met die krag van moederlike liefde en die hulp van afgetrede onderwysers met ’n voorliefde vir wiskunde, sit ’n paar ma’s skouer aan die wiel om die lewens van kinders op die Kaapse Vlakte dag vir dag en som vir som te verbeter.

Dié oud-onderwysers word as mentors en moederfigure ingespan in ’n program genaamd MathMoms wat ’n veilige omgewing skep waarin kinders se selfvertroue kan groei en hul wiskundige vaardighede kan blom.

In plaas daarvan om hul welverdiende aftrede te geniet, het ’n groep afgetrede onderwysers van Elsiesrivier, Ravensmead en Uitsig op die Kaapse Vlakte in 2016 hul moue opgerol, koppe bymekaargesit en besluit hulle kan nie agteroor sit en ontspan terwyl daar in Suid-Afrika ’n onderwyskrisis is nie. Hulle wou steeds ’n verskil in kinders se lewens maak en die jeug bemagtig. Só is hul breinkind, MathMoms, gebore.

Sonja Cilliers, een van MathMoms se stigters, sê hulle kon ’n behoefte sien in hul gemeenskappe en moes daad by die woord voeg om kinders te begin help.

“Ons wou ’n veilige omgewing skep waarin kinders kan leer sodat wanneer hulle teruggaan huis toe hulle met kennis en soveel meer hier uitstap. Ons het toe besluit om nie net te praat nie, maar om ook iets aan die saak te doen. Die organisasie is nie net vir die kinders nie, maar ook vir werklose ma’s wat ’n verskil in hul eie en ander kinders se lewens wil maak. Deur die ma’s op te voed en so breedvoerig moontlik toe te rus met wiskundige en lewensvaardigheid-kennis om oor te dra aan graad twee- en drie-leerders, word nie net die kind se lewe positief geaffekteer nie, maar ook die ma s’n.”

Volgens Sonja het wiskunde die vermoë om kinders se selfbeeld ’n hupstoot te gee. “Ek probeer dit altyd só verduidelik: As ’n kind se vaardighede in wiskunde verskerp, ervaar hy of sy onmiddellik ’n sense of achievement. Wiskunde leer die kinders dat daar verskeie maniere is om ’n probleem op te los en dat daar na alle moontlike oplossings gekyk moet word in plaas van net een. Kinders wat in wiskunde presteer, presteer gewoonlik sommer in al die ander vakke ook.”

REGS: Mentor Barbara le Roux bied lesse aan vir die MathMoms wat hulle dan weer aan die leerders oordra.

impak op almal

Die organisasie bestaan uit vier afdelings: mentors, MathMoms, leerders en skole. Daar is tans sewe mentors, 25 MathMoms, 440 leerders en vyf skole betrokke. Die mentors leer die ma’s, wat op hul beurt weer die kinders oor die grondslag van wiskunde leer. Elke ma word aan vier kinders toegeken. Juis omdat hulle in gebiede werk waar geweld en misdaad hoogty vier, word die ma’s ook geleer oor traumaberading. Elke ma word deur die kinders gesien as ’n pilaar in die gemeenskap wie hulle kan vertrou en op wie hulle kan staatmaak.

Een van dié wonder-mammies is Hilary Thai wat sedert 2016 by die program betrokke is. Sy was ’n leerder by Uitsig Primêre Skool waar sy nou betrokke is. Albei haar kinders is ook leerders van dié skool. “Ek het twee jaar gelede by MathMoms betrokke geraak bloot uit nuuskierigheid. Ek het as ’n assistent die onderwysers uitgehelp toe daar een dag ’n blaai die rondte doen waarop jy jou naam kan skryf om deel van die projek te raak. My naam was glad nie op die blaai nie, maar ek kon my nuuskierigheid nie onderdruk nie en het gaan kyk wat presies die projek behels. Ek was so geïnteresseerd, maar toe onthou ek, ‘Jinne, ek ken dan nie wiskunde nie’. Die mentors het my egter gerusgestel en gesê hulle sal my leer.”

Ná Hilary se eerste inloer by MathMoms was die koeël deur die kerk en sy het dit as ’n goue geleentheid gesien om nie net haarself nie, maar ook haar twee kinders te help. “As kind het ons nie dié tipe geleenthede gehad nie en ons het nie mense gehad wat ons gehelp het as ons sukkel nie. Ons ouers was ook nie opgevoed om ons te help nie. Met die kennis wat ek hier opdoen, gaan ploeg ek weer terug in my huishouding en gemeenskap.”

Hilary bied nou vir kinders in haar gemeenskap gratis naskoolse klasse aan omdat sy voel kinders op die Kaapse Vlakte gaan gebuk onder armoede en misdaad. Met ’n glinster in haar oë gaan sy voort: “Wow, die program het my oë oopgemaak vir soveel meer as wat ek verwag het. Ek kan nou my kinders ook help om beter te presteer op skool en ook hul maatjies. Die dankbaarheid in die kinders se oë vir die aandag en geduld wat ’n mens aan hulle toon, is iets wat woorde nie kan beskryf nie. Dis ’n gevoel wat ’n mens se gemoed laat vol skiet.”

Leerder vir leerder, skool vir skool, gemeenskap vir gemeenskap gaan ons wiskunde-uitslae in ons skole verbeter
Sonja Cilliers

Nóg een van die MathMoms, Sharné Fortuin (25), wat tans ’n intern by die program is, sê sy voel sy sou nooit haar droom kon uitleef as sy nie ’n plekkie by MathMoms gekry het nie. “Ek onthou nog ek het aansoek gedoen, maar daar was nie meer plek nie. Een van die ander meisies het uitgeval en toe is my kop deur!” vertel sy laggend. Sharné wat Educare studeer het, het ná haar studies verskriklik gesukkel om ’n internskap te kry. Sy het toe op vullistrokke begin werk. “Ek het gedink dat ek my passie vir onderwys verloor het omdat daar nie vir my ’n geleentheid was nie. My plan was om by die vullistrokke aan te bly omdat ek ten minste miskien daar ’n permanente pos sou kry. My passie vir kinders en hul opvoeding het opnuut opgevlam toe ek by die program aangesluit het. Daar is iets magical aan die feit dat jy ’n kind kan leer lees en tel. Jy sien hoe die kind se selfvertroue groei namate die kind meer kennis opdoen.”

HOOFFOTO: MathMom Shireen Kriel gee ’n les by Norwood Primêre Skool in Elsiesrivier.

hoop vir toekoms

By een van die klaskamers by Norwood Primêre Skool in Elsiesrivier is MathMom Shireen Kriel (38) besig met ’n les. Met die intrapslag by die klaskamer is die kinders entoesiasties besig om blinddoeke op te sit. Shireen of Juffrou Kriel, soos hulle haar noem, is besig om die kinders “feel and count” te leer. Die kinders volg gehoorsaam en ywerig die les. Elke dan en wan breek daar ’n laggie uit. Aan die manier waarop Shireen met die kinders werk, kan ’n mens onmiddellik sien sy het ’n sagte plek vir dié jong span. Dis Shireen se tweede jaar by MathMoms.

“Voor ek aangesluit het, was ek werkloos. My selfbeeld was baie laag en ek het nie baie drome gehad vir my toekoms nie. Ek was baie teruggetrokke,” vertel Shireen. Sedert sy betrokke geraak het, het haar lewe drasties verander. “Daar is nou soveel meer geleenthede en ek het nou baie vertroue in myself. Waar ek nooit voorheen voor mense kon praat nie, gee die glimlaggies op die kinders se gesiggies my nou die moed om uit te staan en my drome na te jaag.”

Shireen self is ’n ma van twee kinders en is tans besig om ’n graad in onderwys te voltooi. “Die liefde wat ek vir die kinders het en vir wat ek doen, sit elke dag ’n glimlag op my gesig. Ek het weer lus vir die lewe. Was dit nie vir MathMoms nie sou ek nie my drome gevolg het nie en maklik steeds by die huis gesit het.”

Wat is volgende vir MathMoms? Met ’n glimlag wat maklik haar oë bereik, antwoord Sonja doelgerig: “Leerder vir leerder, skool vir skool, gemeenskap vir gemeenskap gaan ons wiskunde-uitslae in ons skole verbeter wat aanleiding sal gee tot ’n verbeterde ekonomie.”

Beter as dít kon ons dit nie stel nie!

Meer oor:  Gemeenskap  |  Onderwysers  |  Kuier  |  Wiskunde  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.