Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Wupperthal: Gemeenskap bou ná die rou
11 Desember 2019


Verlede jaar op 30 Desember het ’n verwoestende veldbrand die historiese sendingsdorpie Wupperthal in sak en as gelaat. Ongeveer 250 Wupperthallers is deur die brand geraak en dié dorpie wat knus versteek lê in die Sederberge, het op die drumpel van ’n nuwe jaar sy ergste ramp nóg beleef . . .

Die brand het binne enkele ure deur die hele Wupperthal getrek en dit byna heeltemal in puin gelê. Slegs die geskiedkundige Wupperthal-skoenefabriek en Morawiese kerk het die verwoestende brand vrygespring.

Ongeveer 53 huise, die gemeen-skapsaal, pastorie, die skool en nog ander geboue het in die slag gebly. Nou amper ’n jaar later, is die dorpie aan die herbou en hoewel dié Kersfees hemelsbreed gaan verskil van dié van verlede jaar, is inwoners dit eens – dit gaan ’n Krismis wees van dankbaarheid, liefde en ’n tweede kans vir hul geliefde dorpie.

Die pastorie word herbou.
Die gemeenskapsaal word ook herbou.
Só lyk die poskantoor nou.

Staan saam

Die gemeenskapsleiers, eerw. Jasmin Radcliffe, Margueretha Kainda en Richolene Coetzee wys hoe vorder die bouwerk.

Eerwaarde Jasmin Radcliffe (50), predikant op die dorp en ook die leier van die gemeenskap, sê wat begin het as ’n onskuldige aktiwiteit vir drie seuns het gelei tot die brand. “Die seuns wou gaan heuning uithaal en het eers die bye uitgebrand. Hulle het nie die vuur reg geblus nie en só het die brand ontstaan.”

Volgens Jasmin is daar egter geen kwade gevoelens van inwoners nie. “Ongelukke gebeur en dit was ’n onskuldige fout van drie kinders.” Hy sê wat hom die meeste tref van dié tragedie is die inwoners se standvastige geloof en hul hoop op ’n beter môre. “Almal het saamgespan om mekaar onvoorwaardelik te ondersteun.

Dit is veral bejaardes wat hul huise en besittings verloor het en die manier hoe Suid-Afrika uitgereik het na die dorp, is bewonderenswaardig.”

Eerw. Radcliffe en Enid Brown, wat ook haar huis in die brand verloor het.

Margueretha Kainda (51), voorsitter van die rampkomitee in Wupperthal, is ook vol bewondering vir die dorp en sy inwoners. “As jy met die inwoners gesels en luister na hul staaltjies en grappies is dit moeilik om te glo wat hulle alles verloor het. Dit is ook wat dit noodsaaklik maak dat die dorp herbou moet word en tot sy volle glorie moet herstel.” Met Kuier se besoek aan die dorpie is ’n gewerskaf oral sigbaar.

Van die gemeenskapsaal tot die plaaslike winkel is besig om herbou te word. Die inwoners se gemoedere is lig en dan merk Enid Brown (68), een van die inwoners wat haar huis in die brand verloor het, dankbaar op: “Van waar ons was tot waar ons gekom het, is genoeg rede om te jubel en te juig. Die Vader van genade sal voorsien en wie weet, by Krismis kan een van ons dalk weer in ons eie huisie wees!”

Inwoners het toegekyk hoe die brand op 30 Desember 2018 verwoesting op Wupperthal gesaai het.
Die gemeenskapswinkel.

Dankbaar vir genade

Nóg ’n inwoner wat haar huis in die brand verloor het, is Johanna Zimri (84), beter bekend onder inwoners as tannie Halfie. Sy het voor die verwoestende brand 61 jaar in haar kliphuis gebly. “Ek onthou nie eens meer my lewe voor daai huis nie. Ek het na Wupperthal getrek toe ek 23 jaar oud was en het ook hier my man ontmoet.”

Tannie Halfie se man is intussen oorlede. “In ons huisie het ek agt kinders gebaar en vier kleinkinders is daar gebore. Ons het nooit baie gehad nie, maar laat ek jou nou ’n ding of twee vertel – in daai klein huisie van ons was ons op ons gelukkigste.” Sy onthou die dag van die brand soos gister en sê dit is heel waarskynlik ’n dag wat vir die res van haar lewe in haar brein ingeëts is.

“Ek het die Sondagmiddag in my voorhuis gesit en wou nog ’n middagslapie vat. Om een of ander rede het ek besluit om liewer vir my ’n lekker koppie tee te maak en vars beskuit daarmee te eet. Ek het die tee gemaak en terwyl ek sit en wag vir die tee om af te koel, kom daar iemand ingehardloop en sê dit brand daaronder.” Volgens dié antie het sy toe by die deur uitgehardloop om te gaan kyk waar presies dit brand.

“Op daai tydstip het ons huis nog nie vlamgevat nie, maar ek kon sien dat die vlamme sterk op pad is en dit net ’n kwessie van tyd was voor ons ook affekteer sou word. Die mense se huise wat reeds aan die brand geslaan het, het geskree en gewoeker met die water om hul wonings te red – tevergeefs.” Tannie Halfie het teruggehardloop na haar huis om haar handsak te kry.

“Jy weet mos hoe is ons oumense – ons het een handsak wat alles bevat. Van jou identiteitsdokument tot jou begrafnispolis. Ek het my sak gegryp en net toe ek wil uitloop, sien ek dat ook my dak aan die brand geslaan het.” Een van dié antie se seuns het onverpoos probeer om die brand te blus, maar sy pogings was onsuksesvol. “Ek het kaalvoet by die huis uitgehardloop, want my hart was seer. My hart sou dit nie kon hou om te sien hoe jare se herinneringe wegbrand nie. Dit was die hartseerste dag in die dorpie . . .”

Werkers vorder fluks met bouwerk aan die gemeenskapswinkel wat erg deurgeloop het onder die vlamme.

Met trane wat blink in haar in haar oë vertel sy hoe hulle daai aand almal op een stoep moes slaap. “Iemand het hul huis oopgestel aan diegene wat alles in die brand verloor het. Ons het almal op matrasse op die stoep geslaap. Daarna het ek verhuis na Kaapstad en toe ook Oudtshoorn.” Tannie Halfie, wat al haar hele lewe lank op die platteland bly, kon egter nie inpas by die stadslewe nie en het ’n maand of twee daarna teruggetrek na die dorpie wat haar hart gevangene hou.

“Ek kan net nie inpas by die stadslewe nie. Dit is nie vir ons almal nie en beslis nie vir ’n ou vrou soos ek nie. Hoewel ek probeer het, kon ek dit net nie regkry nie en moes noodgedwonge terug kom Wupperthal toe.” Tydelike behuising is aan die 53 gesinne gegee wat hul huise in die brand verloor het. Tannie Halfie is ook in een van dié strukture. “Gewoonlik Kerstye het die familie hierheen gekom en ons het dan sommer lekker saam gekuier, maar dit gaan nie dié jaar die geval wees nie. Daar is eenvoudig nie plek vir almal nie, maar glo my ons sal plan maak en Krismis sal hier gehou word – kom wat wil.” Met ’n glimlag sê die antie dat die Here gevat het, maar Hy het ook dubbeld gegee.

“So baie mense het na ons uitgereik en goed geskenk. Ons het in oorvloed ontvang. Van meubels tot tydelike huisies. Dit is bitter min, maar vir ons is dit so baie. En dit is waaroor die gees van Krismis gaan – om dit wat jy het en wat God aan jou gegee het te waardeer en te koester.” Sy sê hoewel hierdie jaar hemelsbreed gaan verskil van verlede jaar, weet sy wel dit gaan beter wees.

“Ons het nou meer waardering. Ons is dankbaar, dankbaar vir Sy genade en dat ons nog ’n jaar hier Krismis kan vier.” Ons het saam met tannie Halfie haar uitgebrande huis gaan besoek en sy kon nie anders as om met heimwee aan die mure te vat nie. “Ek kan nie glo al wat oor is van ons huis is ’n uitgebrande dop nie, maar ek glo en vertrou voor ek die dag my oë toemaak sal ek weer hier knus in my huisie sit . . .”

En op ’n positiewe noot en met swaaiende arms beduie sy na die gewerskaf op dié dorpie. “Kyk hoe mooi het ons herbou. Daar is niks soos God se liefde en hoop vir ’n beter môre om ’n mens opnuut wéér die dankbaarheid en vreugde van die Kersseisoen te laat ervaar nie!”

Ek kan nie glo al wat oor is van ons huis is ’n uitgebrande dop nie, maar ek glo en vertrou voor ek die dag my oë toemaak, sal ek weer hier knus in my huisie sit . . .
Johanna Zimri
Johanna Zimri
Johanna Zimri het álles in die brand verloor.
Hier krap sy tussen haar uitgebrande cutlery.
Só lyk die tydelike strukture wat vir die inwoners opgerig is.
Johanna sit op die stoep van haar tydelike woning.

Meer oor:  Kuier  |  Wupperthal  |  Ware Lewensdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.