Twee Suid-Afrikaanse egpare, Francis en Sharon Meth en Basil en Carmel Thompson, het in Kaïro in Egipte agterbly nadat hulle Sondag in ’n ontploffing naby die Giza-piramides beseer is.
“Sharon, wat nie beseer is nie, het agterbly om na haar man, Francis, om te sien. Francis, Basil en Carmel het al drie ligte beserings opgedoen, meestal snye aan hul gesig toe die glasvensters van die bus in ons gesig ontplof het,” sê Carl Emmanuel, die assistent- spirituele leier van ’n groep gelowiges van Katolieke kerke in Suid-Afrika wat jaarliks ’n pelgrimsreis na heilige lande onderneem.
Emmanuel en sy vrou, Charmaine, albei van die St. Francis Xavier Katolieke gemeente op die Bluff in Durban, was in die bus toe die bom op die laaste dag van die toer ontplof het.