Eskom moet sy getal wit ingenieurs met 1 081 verminder en sy wit ambagslui met 2 179 minder maak om aan streng nuwe vereistes van die Wet op Billike Indiensneming te voldoen.
Dit is die gevolg van voorskrifte wat die departement van arbeid aan Eskom opdwing en wat eis dat Eskom, wat verreweg die verste gevorder het met regstellende aksie van alle staatsinstellings, jaarliks genoeg daarmee vorder sodat dié twee sleutel-poskategorieë teen einde Maart 2020 ten volle “die nasionale en streekdemografie van die land” sal weerspieël.
In die poskategorie vir professionele werknemers en middelvlakbestuurders – wat in Eskom se werkmag op ingenieurs neerkom – is daar op die oomblik 6 530 mense, van wie 1 786, of 30%, wit is. Dit moet met 1 081 verminder tot net 705 om aan die voorskrifte van die departement van arbeid te voldoen.