Neëntig jaar ná die amptelike vestiging van Afrikaans as ’n landstaal, blý daar vir sommige die vraag: Kan die taal oorleef die 22ste eeu in?
Hierdie angs oor die voortbestaan van Afrikaans is niks nuuts nie: Dit was ’n refrein so lank terug as wat ek my herinner. Ek het dit as jong student kom kry aan die Universiteit van Kaapstad in die 1950’s. By destydse dosente van my – die digter Dirk Opperman (die “bonkige Zoeloelander”) en die taalman I.W. van der Merwe (Boerneef) – het daar geen twyfel oor die antwoord bestaan nie.
Met ’n letterkunde wat van meet af aan gegroei het tot die gedraenheid van vandag, met digters soos N.P. van Wyk Louw, Louis Leipoldt, D.J. Opperman, Sheila Cussons, Olga Kirsch, S.V. Petersen, Breyten Breytenbach, Peter Blum, Joan Hambidge, P.J. Philander, en ander, kan daar tog nie sprake van ’n doodloopstraat vir die taal wees nie. Dit maak ook nie saak dat dinge, erg ongelukkig, befoeter word deur die verarmende siening en gebruik van die taal deur enkele van ons letterkundiges nie. My vermoede is dat die geteem maar idiosinkraties is – ’n hebbelikheid en ’n moedswil. Dis vir hierdie mense ’n soort lekker . . .