Die klok van die Stellenbosse Moederkerk begin die uur slaan. ’n Toeter word gedruk. En dan is daar ’n ander klank; van die stoep van die Coopmanhuijs Hotel ’n stem wat sê: “Ek is hier.”
Wyle Hennie Aucamp praat van “die tragiese stem van Amanda Strydom”. In hierdie oomblik is die stem helder, lig, gelate. Maar weemoed ís deel van die groot Amanda Strydom se uitstraling. Jy sien dit ook in die pragtige groen oë. Waar sy hier sit, is daar iets van ’n Edith Piaf aan haar; iets van die woorde Non, je ne regrette rien . . .
Aucamp was Amanda se mentor, haar meester. Sy vertel hoe hul verhouding ontstaan het.