KAAPSTAD. – Die werk van ’n span navorsers wat gereed was om olifante iets te leer was klaar gedaan, want dié diere kon dit reeds self doen.
Wanneer mense die aandag van ander wil trek, wys hulle na iets – gedrag wat van jongs af gebruik word. En dit is presies wat dr. Richard Byrne van die Universiteit van St. Andrews in Brittanje aan ’n klompie olifante by ’n sentrum naby die Victoria-waterval wou gaan leer.
Hy en ’n kollega, dr. Anna Smet, het verduidelik dat mense op uitstappies op dié olifante kan ry. Hoewel die olifante verbale opdragte van hul opsigters verstaan, is daar nooit aan hulle geleer om te kyk, of te reageer, wanneer iemand na iets wys nie.