Met amper kinderlike opwinding praat die argitek Mark Thomas oor die Boomslang-wandelbrug wat tussen die krone van die bome in Kirstenbosch se arboretum deurkronkel. Dit is soos ’n Meccanostel, sê hy.
Mark ontmoet ons op ’n koel, betrokke dag in Kirstenbosch. Hy daag op in ’n Land Rover met die naam Matilda en is geklee in jeans, ’n wit hemp en Birkenstock-sandale. Op sy kop is ’n bruin seilhoed.
Ons begin stap in die rigting van die Boomslang. Dit is een van die amptelike projekte van Kaapstad Ontwerphoofstad 2014, maar is ook aangepak as deel van die viering van Kirstenbosch se honderdjarige bestaan verlede jaar. Die projek nader nou voltooiing en sal waarskynlik aan die einde van Maart klaar wees.