Die kombinasie van kerrievis en Paasbolletjies hang vir baie feesvierders nou saam met die Bybelse verhaal van Jesus se vermeerdering van die visse en die brode.
Ook die Rooms-Katolieke gebruik van vis eet op Vrydae het waarskynlik ’n rol gespeel.
En dat dit spesifiek kerrievis (oftewel pekelvis) is wat ons nou berei, het dalk ’n praktiese oorsprong – die algemene oortuiging dat op Goeie Vrydag nie gewerk (dus ook gekook) mag word nie. Dié probleem word oorkom deur kerrievis voor te sit, want dit word vooraf berei om sy kenmerkende geur ten volle te laat ontwikkel.