Die jaarlikse Adam Small-fees vind komende naweek in die historiese dorpie van Pniël plaas.
Vanjaar kan feesgangers weer uitsien na topskrywers en sprekers.
Volgens Matthew Cyster van die Pniël-museum en verteenwoordiger vir die Pniël-erfenis- en kultuurtrust, is die Adam Small-fees ’n unieke geleentheid.
“Wat vanjaar wonderlik is, is dat verskillende organisasies in die Afrikaanse gemeenskap betrokke geraak het, onder meer Afrikaans.com, die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), Vriende van Afrikaans en die Suid-Afrikaanse sentrum vir Nederland en Vlaandere. Ons is ook verheug dat Spier-wynlandgoed betrokke geraak het.”
Cyster nooi besoekers van oral, maar veral inwoners van die Dwarsriviervallei om die fees te ondersteun en by te woon. “Ons nooi veral mense in die omgewing om besit te neem van die fees en om die fees te eien. Dis óns fees. Ons is baie trots, verheug en geseënd om die fees in die Pniël te hê.”
Small, Afrikaanse ikoon en voorloper van ’n hele generasie Afrikaanse digters, word by die fees vereer. “Ons ken hom en erken hom as een van die grootste bruin skrywers. Gedurende ’n tyd van onderdrukking was dit veral sy stem wat die uitbuiting van mense bekend gemaak het. Hy het vir lank nie die erkenning gekry wat hy verdien het nie.”
Cyster is dankbaar vir al die skrywers en sprekers wat vrywillig hul tyd gaan deel met die fees. “Behalwe vir uitstekende skrywers en sprekers, gee ons ook geleentheid aan jong skrywers. In die proses kan ons dalk ’n nuwe Adam Small hierdeur kweek.
Die program bied iets vir almal. Dit begin Vrydag 22 Februarie by Hoërskool Kylemore wanneer oudskoolhoof en onderwyskenner, Michael le Cordeur, ’n muuronthulling geborg deur Afrikaans.com sal doen. Hemelbesem sal na verwagting ook sy verskyning maak.
Die amptelike opening van die fees sal dan 09:45 deur eerw. Leon Klate by die Pniël Congregational-kerksaal geskied.
Luidens Afrikaans.com se webtuiste, sluit die hoogtepunte in Rita Gilfillan wat met die krag van woorde speel. Rita gesels oor haar nuutste kortverhaalbundel, Wanneer die Bloekoms Dans, Lynthia Julius gesels oor die drama, Orange Earth, wat nou ook in Afrikaans gedruk word. “Hierdie werk word beskou as een van Adam Small se mees intieme literêre werke en vra wat presies in gedrang is wanneer dit kom by taal, godsdiens en ons land.”
Michael le Cordeur gaan gesels oor die Kaapse Klopse. Kirby van der Merwe, Gaireayah Fredericks, Howard Feldman en Peter Braaff is ook gedurende die fees aan die woord.
Vanjaar word die gedenklesing, Saterdag, 23 Februarie om 11:00 deur prof. Thuli Madonsela behartig. Nog belangrike sprekers is Marlene le Roux wat die Sondag 24 Februarie sal gesels oor Hoop – ook ’n nalatenskap van Adam Small.
Dianna Ferrus en joernalis- en skrywer Julian Jansen wat oor sy boek, The De Zalze Murders, gaan praat, maak ook verskynings.
Die skrywers se boeke sal te koop wees en die meeste programme by die fees is gratis hoewel ’n skenking aan die Pniël-museum verwelkom sal word.
. Die volledige program is beskikbaar op Pniël-museum se Facebook-blad en Afrikaans.com.. Vir nog inligting oor die fees, skakel Matthew Cyster by 083 324 7691, die programleier Darryl David by 081 360 9231 of die Pniël-museum by 021 885 2645 in kantoorure.