In die lig van die deurmekaarspul by Akkerland moet ’n mens versigtig wees om weens ’n geknoeiery deur die staat nie die regsgeldige grondhervormingsproses te diskrediteer nie, skryf Elmien du Plessis.
Daar is al heelwat geskryf oor onteiening in die konteks van grondhervorming, maar dit blyk dat daar nog heelwat onduidelikheid by die publiek is oor hoe dié proses werk. In lig van die Akkerland-storie is dit belangrik om die proses te verstaan sodat ’n mens kan onderskei tussen wat die regsproses is en wat in die politieke arena gebeur.
Die regering beoog glo ’n “onderhandelde onteiening” van Akkerland se twee plase in die dorre Limpoporivier-kom. Johan Steenkamp se twee plase, Lukin en Salaita, wat deur die maatskappy Akkerland bestuur word, maak 42% van Coal of Africa (CoAL) se Makhado-steenkoolprojek in die Limpopo-kom uit.