Die ANC gaan die Grondwet verander om die omstandighede waarin grond sonder vergoeding onteien kan word, duidelik uit te stippel.
Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdagaand laat dié aankondiging in ’n vooraf opgeneemde boodskap van sowat sewe minute gedoen wat op die SAUK se 24-uur-televisienuuskanaal uitgesaai is.
Die besluit is geneem op ’n vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) wat Dinsdag in Centurion ten einde geloop het.
Ramaphosa het gesê ’n deeglike ontleding van die eiendomsklousule van die Grondwet toon dat die staat grond teen billike vergoeding kan onteien en ook sonder vergoeding wanneer dit in die openbare belang is. Dit moet duidelik uiteengesit word.
“Dit is glashelder dat ons mense wil hê die Grondwet moet duideliker wees oor grondonteiening sonder vergoeding – soos duidelik geblyk het in die openbare sittings (oor grondhervorming). Al hoe meer mense stem ook saam dat die Grondwet soos dit nou daar uitsien, nie grondonteiening sonder vergoeding verhinder nie.”
Die ANC glo ’n omvattende grondhervormingsprogram sal ekonomiese groei aanwakker en miljoene meer mense aktief aan die ekonomie laat deelneem.
Ramaphosa het Suid-Afrikaners oor alle grense heen geprys omdat hulle voorstelle oor dié “kritieke kwessie” gedoen het.
“Dit is die grondwetlike demokrasie waarvoor ons geveg het.”
Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, sal Donderdag meer besonderhede oor die ANC se planne bekend maak.
Ramaphosa se aankondiging kom in dieselfde week waarin die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) gewaarsku het dat die voortslepende debat oor grondonteiening buitelandse beleggers kan afskrik.
Dit “ondermyn die geloofwaardigheid van die regering se voorgenome prioriteit om beleggings te lok”, lui ’n verslag wat die IMF vandeesweek uitgereik het.
Die sogenaamde artikel IV-verslag is ’n opsomming van die gevolgtrekkings wat IMF-amptenare gemaak het op hul besoek aan Suid-Afrika van 28 Mei tot 11 Junie. Hulle het met verteenwoordigers van onder meer die regering, staatsondernemings, die sakesektor, vakbonde en die aka-demie onderhoude gevoer.
“Internasionale ondervinding dui aan grondhervorming behoort daarop te fokus om landbouproduktiwiteit te vergroot, die administrasie van grond te verbeter deur eiendomsreg te versterk en om armoede te verminder. Terselfdertyd moet enige potensiële negatiewe uitwerking van grondhervorming op die landbou, asook die finansiële uitwerking op die waarde van grond as sekuriteit, teengewerk word,” lui die verslag.
Volgens die internasionale leningsorganisasie is grondhervorming sedert 1994 onsuksesvol toegepas “weens onvoldoende beplanning en probleme ná nuwe besettings”.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het ná Ramaphosa se aankondiging getwiet sy organisasie het nou geen ander keuse nie as om internasionale beleggers in te lig dat hul beleggings nie meer veilig in Suid-Afrika is nie.