Die Australiese skeidsregter Angus Gardner sal die fluitjie dra in die Superrugby-eindstryd op 4 Augustus.
Sanzaar, die beheerliggaam van die toernooi, het Vrydag in ’n nuusverklaring gesê dat die aanstelling ’n beloning is vir Gardner se goeie vertonings in die seisoen. Sy aanstelling volg op insette deur hoofafrigters van die Superrugby-spanne.
Gardner (33) het sy Superrugby-buiging as skeidsregter in 2012 gemaak in ’n wedstryd tussen die Reds en Rebels in Brisbane. Hy tel nou onder die mees ervare skeidsregters in die reeks met 60 wedstryde agter sy naam. Vanjaar het hy al in 13 wedstryde as blaser opgetree.