Stellenbosch moes onlangs afskeid neem van een van die dorp se grootste afgetrede besigheidsgeeste.
Boet Lourens het reeds as jong man ’n besigheidsvisie gehad wat daartoe gelei het dat hy baie sukses behaal tot op die ouderdom van 70 jaar toe hy afgetree het.
Hy was reeds op 24-jarige leeftyd streekbestuurder van Lewis Stores in die Wes-Kaap. Hy het in 1976 sy drome nagevolg deur sy eie meubelbedryf te begin met Bergzicht Meubels in Stellenbosch.
Baie harde werk en ure is bestee om sy onderneming suksesvol te maak. Hy is ook jare gelede vereer as Kleinsakeman van die Week, soos deur Eikestadnuus berig.
Sy sukses het geen einde geken nie toe hy in die vroeë 90’s Modern Electrical Appliances in Somerset-Wes oorgekoop het. Vandag word albei besighede nog suksesvol bedryf deur sy vier seuns en skoonseun.
Vir baie mense het die naam Boet Lourens baie beteken. Hulle kon onder meer hul eerste yskas of meubelstuk met hom assosieer. Vir hulle was dit nie ’n winkel by wie hulle gekoop het nie, maar ’n man met ’n groot hart wat in hul behoeftes kon voorsien.
Sy klante was vir hom nommer een in die besigheid gewees en het hy alles in sy vermoë gedoen om hulle gelukkig te hou.
Boet Lourens is 14 Julie 2017 met die viering van sy 81ste verjaardag oorlede ná ’n kort siekbed.
Hy was ’n besonderse familieman en laat sy geliefde vrou Helie, vyf kinders, hul gades en 11 kleinkinders agter.
Vir sy familie, vriende en klante was hy ’n legende wat ’n groot leemte gaan laat.