Betekenis lê tussen heilige en onheilige

Sacred and Profane

Lizamore& Associates, Johannesburg

Stefan Erasmus

Sedert die Franse sosioloog Émile Durkheim “heilig en onheilig” as ’n dichotomie verklaar het en boonop as ’n wesenseienskap van godsdiens, loop die begrip sacred and profane mank aan dié bagasie. Dikwels, en ten onregte, word dié begrip simplisties verklaar as iets soos ’n spanning tussen goed en kwaad.

Sacred and Profane, ’n uitstalling wat die werk van Dirk Bahmann, Rónel de Jager, Stephan Erasmus, Mandy Johnston, Wayne Matthews en Neil Nieuwoudt byeenbring, wil juis nié dié vereenvoudigde koers inslaan nie. Veel eerder lyk dit, à la Durkheim, asof die sacred slaan op die belange van die groep, soos vergestalt in die simbole van die groep (soos totems of rituele), teenoor die alledaagse take van die individu (soos water-en-ligte-rekeninge).

Maar wat Sacred and Profane verder in die oog het, is om die tweedeling, die teenoorgesteldheid van sacred en profane, vir ’n oomblik op te hef en om op die and, op die band tussen dié twee begrippe te fokus. In plaas van “óf . . . óf” lyk dit asof die uitstalling die fokus verskuif na die “sowel as”.

Veral as ’n mens in gedagte hou dat sacred goed sowel as sleg kan wees. Eweso profane.

Die “en” in die titel word as’t ware die brug waaroor die kunstenaar tussen “wêrelde” beweeg, soos Bahmann dit stel, die brug waarvandaan die afgrond duidelik in die oog kom, maar waar die kunstenaar meteen ook ’n greep op die afgrond kry (soos in Into the Abyss II, die triptiek waaraan Bahmann, Niewoudt en Matthews saamgewerk het).

Dit is met tekens, met simbole, met taal waarmee uiting gegee word aan albei die wêrelde, die openbare sowel as die private, dié van die rituele sowel as dié van die alledaagse. Soms is die simbole onmiddellik herkenbaar soos die Eros-figuur in Matthews se Love Canal Spill: A Dithyrambic Thing, en dan weer obskuur en verhul soos die gevonde stereogram wat Matthews met sigaret-as en grafiet bewerk.

Meer as somber roep die uitstalling iets op van ’n makabere, gotiese sfeer, ’n skemerte tussen twee wêrelde, tussen ’n serebrale vasgryp aan die een kant en ’n gevoel dat begrip verdwyn en dat gevoel jou vaster gryp.

Sou ’n mens op ’n verstaansvlak iets meer te wete kon kom as jy Nieuwoudt se boeke kon lees? Selfs al kon jy die taal dekodeer of kennis van Griekse grammatika het? Nee. In die eerste plek sou die glas waarin dit deursigtig verhul is jou daarvan weerhou. Agter glas stuit ’n mens op taal as “ ’n virus uit die buitenste ruim”.

Hierdie aspek neem De Jager naatloos verder in haar “ondersoek” na vorms van lewe wat onsigbaar vir die oog, soos in die Virus-reeks, prolifereer en ’n invloed het op ’n groter kring van betekenis. In ’n besonder monochrome omgewing staan De Jager se virale groei blougroen uit.

De Jager se verbronsde Karoo-flora aktiveer aspekte van vergetelheid en tak in twyg wat ’n nuwe lewe kry as kunsvoorwerp. Dié belangstelling in ongewone materiaal kry gestalte in Johnston se beeldhouwerk The Enablers, gemaak van plastiekstrooitjies. Die ruimte wat dié tweepas opneem oortref die volume van die werk, ’n verwysing na die oomblik tussen die wêrelde waarin ons bestaan.

Hoewel aspekte van hierdie en daardie wêreld elders in die uitstalling aan die orde kom, betrek Erasmus godsdiens in die manier waarop hy die drakrag van mensetaal as geleier van goddelike boodskappe ondersoek (vergelyk die reeks Their Hollow Words). In elke beeld is teks uit geskrifte van verskeie godsdienste geneem – wat die kyker nie ’n snars nader bring aan begrip nie. En so blyk dit reg deur die geskiedenis, onder meer in onverdraagsaamheid.

In hierdie goed beplande en keurig versorgde uitstalling lê betekenis tussenin, tussen heilig en onheilig. En in die voue van verstaan en voel. En les bes ook in die gewone en die alledaagse.

* Tot 26 Augustus.

Rand - Dollar
17.93
-1.8%
Rand - Pond
19.45
-0.0%
Rand - Euro
17.37
-0.0%
Rand - Aus dollar
11.70
-0.0%
Rand - Jen
0.13
-0.0%
Goud
1,643.66
0.0%
Silwer
18.87
0.0%
Palladium
2,073.00
0.0%
Platinum
858.50
0.0%
Brent-ruolie
86.15
-5.0%
Top-40
57,110
-3.1%
Alle aandele
63,417
-2.9%
Hulpbronne 10
56,319
-7.5%
Industriële 25
78,436
-1.2%
Finansiële 15
14,142
-1.6%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos