Nie net is die prys van bitcoin steeds besig om te daal nie, maar misdadigers begin ook nou dié kriptogeldeenheid verwerp vir ’n ander.
Nuwe kriptogeldeenhede soos monero is vinnig besig om veld te wen in die ondergrondse wêreld van misdadige bedrywighede, veral omdat dit moeiliker vir wetstoepassers is om transaksies daarmee dop te hou.
Weens bitcoin se gewildheid as betaalmetode vir misdadigers het wetstoepassers programmatuur ontwikkel wat bitcoin-transaksies deur bekende booswigte kan monitor. Talle firmas, soos Chainalysis, monitor etlike transaksies elke dag en stel verhandelingsplatforms in kennis indien hulle verdagte transaksies optel waar individue bitcoin vir tradisionele kontant wil verruil.