’n Oorlewende van die dodelikste massaskietery in Nieu-Seeland ’n jaar gelede het wêreldwyd die simbool van vergifnis geword, maar hy sê die verlange na sy vrou is so erg dat hy vergeet sy is weg.
Hy het egter geen woede oor die aanval nie, sê Farid Ahmed. Sy vrou, Husna, was een van die 51 mense wat op 15 Maart 2019 by die Al Noor-moskee in Christchurch doodgeskiet is.
Enkele dae ná die aanval het hy sy vergifnis uitgespreek teenoor die familie van die man wat van die moorde aangekla is. Hy is sedertdien die openbare gesig van die oorlewendes en het Scott Morrison, die Australiese premier, en pres. Donald Trump van Amerika ontmoet.