En nou Chris Barnard ... Watter beneuksheid is dit dié van goeie mense, soos Randall Wicomb en Stephan Welz, om so oor Krismis en Nuwejaar die lepel in die dak te wil steek? Vir wat so haastig? Is die wêreld dan nie al droewig genoeg nie? Mens het nou net gehoop die ergste uitdunning is verby in die land waar die dood so fluks boer ten spyte van die droogte, dat ons geleer het om wye draaie te loop om donker plekke van verlating, om weg te bly van vliegtuie in die nag oor Afrika. Moet mens dan nou gaan wegkruip by John Miles in die Bokkeveld?
En nou, Chris. Hy was die stil een. Die ou grote. Die man met die ruim hart en die werklike diepgaande bemoeienis met die aard en die kronkels en die vrese van menswees. Hy was die stilis, die skrywer wat met ekonomiese, maar treffende woordgebruik vir jou ’n situasie of ’n wêrelddeel kon oproep wat oënskynlik lokaal was - en hy was altyd gevoed deur sy wortels - maar in feite diecondition humaine bestryk het. Ander sal hopelik kan beskryf hoe hulle eie werk beïnvloed is deur Chris Barnard se benadering van opregtheid, onopgesmuktheid, en byna onsigbare vaardigheid. Dis vir my duidelik dat van ons jonger skrywers, selfs onder die moderniste, baie geleer het by Chris en dat hulle waardige voortsetters is van die paadjies, so eie aan ons tydsgewrig en ons taalomgewing, wat Chris oopgeskryf het.
Dis Chris, destyds in Parys, wat gemaak het dat my eie goed publiseerbaar gemaak is. (Dit sê natuurlik nie veel van sy literêre oordeel nie.) Saam met Bartho Smit in die besonder - en ander stimulerende en simpatieke voorbeelde en verwysings soos Etienne Leroux, Jan Rabie, André Brink, Braam de Vries, en verder ook Uys Krige, en later Dirk Opperman - het hy gesorg daarvoor dat mens die vertroue ontwikkel om te glo dis die moeite werd om aan te hou skryf in Afrikaans. Chris Barnard en die ander het van die taal ’n soepel en moderne skeppingstuig gemaak en daarmee saam ’n ruimte van leefbaarheid geskep waarbinne jy met oortuiging kon verskil van die opinies en besluite van nie net die bewindhebbers en stam-priesters nie, maar ook van jou medeskrywers indien nodig. Hoed-dra is ongelukkig nie meer gebruiklik nie. Ek wil egter die simboliese hoed lig vir hierdie Bosveldmens wat ons nou ontval het. Dankie Chris, vir wat jy vir soveel van ons beteken het. Mooi loop, en groete sê daar bo.