Die Westelike Provinsie se direkteur van rugby, Gert Smal, en sy uitvoerende hoof, Paul Zacks, het die spreekwoordelike pap op die grond laat val in hul pogings om die Springbok-haker Schalk Brits volgende jaar die Stormers-trui te laat dra.
Volgens Rapport se inligting, wat deur vyf bronne bevestig is, het swak kommunikasie tussen Smal en Zacks daartoe gelei dat kontrakte aan Brits én die Leeus se stut/haker, Corné Fourie, aangebied is, terwyl daar nie genoeg geld was om albei se salarisse te betaal nie.
Rapport verneem dat Smal en die afrigtingskorps by die Stormers vir Fourie geteiken het as die geskikte speler om by Nuweland te betrek, al het hulle alreeds drie hakers in Bongi Mbonambi, Ramone Samuels en Scarra Ntubeni.