Cass McCombs se jongste album Tip of the Sphere is ’n getoorde luisterervaring, meen Danie Marais wat dit vier uit vyf sterre gee.
Die bopunt van ’n sfeer gaan jy tevergeefs soek en dis deel van die punt van die titel van Cass McCombs se getoorde negende plaat – ’n psigedeliese droomkolk, ’n Alice in Wonderland-konyngat wat jou deursuig na ’n ander dimensie waar jy verskeie van rock en folk se groot geeste in nuwe gedaantes hoor verskyn en verdwyn.
Jy kry die elektriese Bob Dylan – daai “thin, wild mercury sound” soos Dylan die klank van Blonde on Blonde beskryf het – in “I Followed the River South to What” en die ballade “The Great Pixley Train Robbery”. In “Estrella”, “Absentee”, “Real Life” en “Sleeping Volcanoes” spook Elliot Smith vertroostend saam met eggo’s van solo-Lennon, vroeë Elton John en The Velvet Underground se gelyknamige, droomverlore derde plaat. In die ragfyn country-folk-blues van “Prayer for Another Day” kom groet Lambchop skaam, maar net daarna word jy verras deur die onheilspellende “American Canyon Sutra” waar Tricky, Portishead en Lou Reed ontmoet in ’n stuk trip hoppy spoken word blues met McCombs se woorde soos elektrisiteit in ’n gebreekte neon-advertensiebord: “In American Canyon / Where Walmart employees and customers are one and the same / They’ve even built apartments here to add a residential coffin to the bargain / Guess I’ll stay forever and work for the company store / Where are you?”