Hoewel baie mense brom dat pres. Cyril Ramaphosa in die vyf maande sedert die verkiesing min reggekry het, is daar tog hoop dat ons op die regte pad kan beland, skryf Theuns Eloff.
Daar is min kwessies wat so gereeld in gesprekke ter sprake kom as die sukses (al dan nie) van Ramaphosa – selfs in hierdie tye van die Wêreldbeker-rugbytoernooi.
Almal (behalwe die Zuptas en die EFF) wil hê dat hy slaag en glo dat hy wil slaag. Maar twyfel vreet aan hierdie vertroue elke keer as daar iets negatief in die land gebeur: van nog ’n staatsonderneming wat ’n reddingsboei wil hê tot die verkragting van en moord op ’n student deur ’n amptenaar in die staatsdiens.