Om mure af te breek is absoluut noodsaaklik vir die voortbestaan van Afrikaans, skryf Deidré le Hanie, besturende direkteur van die ATKV, in reaksie op die debat wat oor Afrikaans Plus losgebars het.
Afrikaans Plus is nie ’n óf-óf-saak nie. Dit is nie óf Afrikaans óf meertaligheid nie. Dit is Afrikaans Plus.
My eerste kontak met die ATKV het begin deur die lees van twee jaarverslae. Die organisasie se waardes, missie en visie het dadelik met my geresoneer. Daarin vervat, was die vele voorbeelde en stories van die verskil wat die ATKV daagliks in duisende gemeenskappe maak deur middel van die vier fokusgebiede (taal, kunste, onderwys en gemeenskap). Die ATKV raak lewens, en as ’n trotse Afrikaanssprekende het ek die hartsbehoefte gehad om ’n deel van hierdie ATKV te wees.