Asha is maar net vier bene en ’n stert met ’n blaf. Die ma het die hond Asha, wat hoop beteken, gedoop, want vir daardie ma is sy ’n reddingsboei.
Saam met die Bybelse belofte van Hebreërs 13, Lexamil en Risperlet moes Asha haar seun se depressiewe I-hate-that-the-only-thing-surround-ing-me-is-darkness-WhatsApp-status help beveg. Sy het geweet as daar iets is wat die gevoel in haar kind se hart kan lostorring, sal dit ’n hond wees.
Toe sy die hond op ’n hoewe naby Krugersdorp gaan haal, waarsku die teler: “Mevrou, hierdie hond is eintlik gebreklik en hy het ’n oorbyt. Ek kan haar nie met papiere aan jou verkoop nie.” In die hondeteler se sitkamer was daar nie ’n sentimeter waar nie ’n ornament gestaan het nie; teen een muur hang ’n houtbordjie met ’n ronde gat met die woorde: “My gat is in Gauteng, maar my hart is in Margate.”