Bathabile Dlamini, minister van vrouesake in die presidensie, se aandeleportefeulje van R21 081 en die helfte van ’n huis is beswaarlik genoeg vir die honderde duisende rande se regskoste wat sy moet betaal. Dit is die somtotaal van Dlamini se verklaarde bates in die nuutste belangeregister vir lede van die parlement.
Die konstitusionele hof het Dlamini die afgelope week beveel om 20% van die regskoste van Freedom Under Law (FUL) en die Black Sash te betaal in die voortslepende hofsaak oor Cash Paymaster Services (CPS) se kontrak vir die betaling van maatskaplike toelaes toe Dlamini minister van maatskaplike ontwikkeling was.
Hoewel die finale bedrag vir die regskoste nog nie bereken is nie, kan haar aandeel honderde duisende rande beloop.