Droogte gaan jou sak erg ruk

Soos ’n woestyn . . . ’n Dorre stuk aarde tussen Dealesville en Soutpan in die Vrystaat. Foto: CONRAD BORNMAN

Suid-Afrikaanse verbruikers moet hulle regmaak vir ’n dubbele slag wat kospryse betref weens die landwye droogte en die voortgesette swak rand.

Boonop kan twee rentekoersverhogings volgende jaar verwag word, sê ekonome.

Terwyl Suid-Afrika steeds van ’n R12 miljard-verlies in mielieproduksie verlede jaar herstel, is die land nou in die greep van die droogte wat ons vir die eerste keer in sewe jaar ’n netto invoerder van mielies kan maak, sê Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA.

Dit kan ’n aansienlike verhoging in mielie- en uiteindelik kospryse veroorsaak.

Volgens De Villiers het die droogte in Februarie vanjaar tot ’n 70%-styging in die prys van witmielies gelei, wat die prys van mieliemeel met 14% opgestoot het.

“Dit sal baie sleg gaan met die arm mense van die land.”

Hy het aan Fin24 gesê die prys van geelmielies het met 60% gestyg. Geelmielies word vir dierevoer gebruik en die prys daarvan het ’n impak op die prys van pluimvee, rooivleis en suiwelprodukte.

De Villiers het voorbeelde van prysverhogings van eiers (10%), hoender (6%) en beesvleis (4% tot 5%) genoem en gesê verbruikers kan baie hoër pryse verwag as dit nie binne drie tot vier maande reën nie.

“Mieliemeel kan nog 15% duurder word en die meeste van die ander produkte sal dubbel­syfers haal, maar dit is moeilik om te skat.”

Hy het ook gewaarsku oor ’n verwagte toename in koringpryse wat ’n impak op die prys van brood kan hê.

Suid-Afrika is reeds ’n netto invoerder van koring en word deur die randwisselkoers geraak.

Graan SA reël ’n biddag vir reën op 27 November in Nampopark naby Bothaville.

Die Rooivleis-produsente-organisasie (RPO) het in ’n verklaring gesê die huidige droogte volg op ’n baie swak 2014-seisoen in die meeste dele van die land.

“Net in KwaZulu-Natal het meer as 40 000 beeste al gevrek en groot veeverliese word tans landwyd in die opkomende sektor ervaar.

“Watervoorsiening vir vee het ook nou krisisafmetings aangeneem met damme, vleie, spruite, fonteine, boorgate en riviere wat opgedroog het.”

Nuwe boorgate word met beperkte sukses en teen ’n hoë koste geboor.

“In baie gevalle word water aangery, op party plekke tot 15 km ver. In die hittetoestande is die waterverbruik van beeste tussen 40 en 50 liter per bees per dag, wat die logistiek van watervoorsiening moeilik maak.”

Selfs al word die droogte binnekort gebreek met ’n normale seisoen verder, sal vleispryse styg, want boere sal hul kuddes moet heropbou, lui die verklaring.

As die droogte voortduur, sal die aanbod op lang termyn ernstig onder druk wees en pryse bo inflasie styg.

Die rooivleisbedryf is dankbaar vir die R220 miljoen wat die departement van landbou, bosbou en visserye vir ramphulp aan boere bewillig het, maar ’n onafhanklike studie het gewys wesenlike hulp net in KwaZulu-Natal sal R740 miljoen beloop, het die RPO gesê.

Intussen verwag die ekonoom Sanisha Packirisamy en Herman van Papendorp, hoof van makronavorsing by MMI, twee rentekoersverhogings van 25 basispunte elk in 2016, wat die repokoers tot 6,5% kan opstoot, berig Fin24.

Die rand sal volgens hul vooruitsigte ook nog 10% teenoor die dollar verswak (in verhouding met die gemiddelde vir 2015).

Die gemiddelde inflasiekoers in 2016 sal na verwagting 5,8% wees, met ’n hoogtepunt van 6% in die eerste kwartaal en ’n afplatting tot 5,2% in 2017.

Na hul mening sal Suid-Afrika nie in die volgende drie jaar ’n groeikoers van bo 2% haal nie.

besig om te laai... Regstreeks
New Zealand 42
Ireland 19
besig om te laai... Regstreeks
United States of America 134/3
Jersey 0
besig om te laai... Regstreeks
England 0
India 338/7
Rand - Dollar
16.50
-1.3%
Rand - Pond
19.96
-1.0%
Rand - Euro
17.21
-1.0%
Rand - Aus dollar
11.24
-1.0%
Rand - Jen
0.12
-1.0%
Goud
1,810.71
0.0%
Silwer
19.89
0.0%
Palladium
1,964.46
0.0%
Platinum
892.00
0.0%
Brent-ruolie
111.63
+2.3%
Top-40
59,640
-0.8%
Alle aandele
65,662
-0.9%
Hulpbronne 10
61,245
-4.1%
Industriële 25
80,264
+1.1%
Finansiële 15
14,564
-0.8%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos