Johan Ackermann het Saterdag simpatie met sy Haaie-eweknie, Robert du Preez, gehad oor die frustrasie wat hy ervaar het met sekere beslissings van die skeidsregter, Marius van der Westhuizen.
Nie een van die twee wou hul monde openlik uitspoel oor hoe Van der Westhuizen die kwarteindstryd van die Superreeks, wat die Leeus op Ellispark met 23-21 “gesteel” het, hanteer het nie, maar dit kon tussen die lyne gelees word dat dit nie hul goedkeuring weggedra het nie.
Daar was ’n aantal omstrede beslissings en Du Preez het, toe hy daaroor uitgevra is, gesê: “Jy weet ek mag niks sê oor swak skeidsregter-beslissings nie.”