Wanneer ’n eienaar beplan om ’n woning te verkoop terwyl daar ’n huurkontrak in plek is, moet daar besef word dat die huurder die middelpunt van so ’n situasie kan wees.
Daar is niks so uitdagends soos ’n weerstandige huurder wat nie uit die woning wil trek nie. Só ’n huurder mag dalk selfs die proses waar eiendomspraktisyns vir potensiële kopers die woning wil kom wys, saboteer. Dit kan dan ’n potensiële koper laat kop uitrek.
Dit is vir enige eienaar ’n groot kopseer en ook skade as huurders nie ’n eiendom oppas, skoonhou of in stand hou nie. Om ’n vuil, onooglike en onopgepaste woning te verkoop, is altyd moeilik. Wanneer ’n tuin verwaarloos is en die instandhouding van die woning nie gedoen is nie, sal dit ’n definitiewe negatiewe effek op die verkoopsprys hê. Die verkoper kan dan aanbiedinge verwag wat ver onder die markwaarde van die eiendom is.