Colgate. Listerine. Of sommer net Tannie Sannie se Tannevlos.
Jy sou sweer die Ferrari-span spog vanjaar met ’n nuwe borg, so breed het Sebastian Vettel geglimlag nadat hy verlede Maandag sy nuwe SF90 se litte rondom die Catalunya-renbaan by Barcelona losgemaak het. En met rede.
Dié sessie was die eerste van F1 se twee amptelike voorseisoense toetse in die aanloop tot die seisoen se openingsren op 17 Maart in Melbourne – en wanneer die spanne ná maande se reëlinterpretasie, ontwerp, vervaardiging, dataverwerking, verfyning in die windtonnel en talle laatnagte – hul motors eindelik kan loslaat en sien hoe die vrugte van hul arbeid hul vlerke sprei.