Die Wêreldbeker-deur het nog allermins toegeslaan vir verskeie oorsese Springbokke wat nie vanjaar deur Rassie Erasmus ingespan is nie.
Die haker Bismarck du Plessis, die senters Frans Steyn en Jan Serfontein en die losskakel en heelagter Pat Lambie word nog met valkoë deur die Bok-afrigter dopgehou, het ’n onberispelike bron aan Rapport gesê.
Du Plessis en Steyn, wat soos Serfontein vir die Franse klubspan Montpellier speel, is voor die Junie-toetsreeks teen Engeland by Erasmus se eerste groep van die jaar ingesluit, maar het hulle weens beserings aan die groep onttrek. Geeneen van hulle is daarna weer by ’n Bok-groep ingesluit nie.