Indien daar hoegenaamd enige twyfel bestaan het, het die beleidsverklaring oor die mediumtermynbegroting van verlede week dit bevestig: Ons is in groot ekonomiese moeilikheid en die regering het geen plan nie. Die minister van finansies het grappies gemaak terwyl hy die land vertel het dat regeringskuldvlakke na verwagting tot ’n rekordhoogtepunt sal styg, dat ekonomiese groeivoorspellings gehalveer is, dat belastinginvordering volgens beramings sal onderpresteer, terwyl die begrotingstekort tot vlakke van die apartheidstyd sal verdiep. Toe het hy ’n staande toejuiging van sy ANC-kollegas ontvang. Idiote.
My kollegas wat die toespraak dopgehou het, is getref deur die aankondiging dat koekmeel van BTW vrygestel sal word. Die doel is ooglopend (om die las op arm huishoudings te verlig), maar die mededeling het nogtans ’n Marie Antoinette-gevoel gehad wat die toon van die minister se boodskap heel goed oorgedra het.
Ons weet steeds nie wie die minister van finansies is nie. Is hy die fiskaal konserwatiewe hervormer soos wat hy deur die sakegemeenskap en -media geskets word? Of is hy die skerp-linkse ideoloog wat oor die gryp van welvaart en bates sonder vergoeding twiet?