Ek het die afgelope week op vier vliegtuie gevlieg en deur drie lughawens beweeg. Die lughawens was vol. Mense het vlugte gehaal. Die lewe het voortgegaan asof die SAL nie bestaan nie. Dit is wat markte en mededinging doen. Ons het die SAL nie nodig nie – sluit dit net en laat die herinnering daaraan as ’n gedenkteken aan die onbevoegdheid van die ANC voortleef.
Die SAL ly enorme verliese wat in die omgewing van R30 miljard oor die afgelope dekade geraam word – en hierdie verliese styg skerp. Omdat hy hierdie verliese ly, moet die regering vir hom geld voorsien en sy leenbevoegdheid waarborg – met ander woorde, die regering beloof dat hy die SAL se skuld sal betaal indien die lugdiens nie self daartoe in staat is nie.
Geld word dus van belastingbetalers geneem en gebruik om die lugvervoer van mense wat vlieg te subsidieer – pleks om, byvoorbeeld, dié geld te gebruik om skole, hospitale en polisiekantore te bou.