Ek het vroeër die week opdrag aan die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) se prokureurs gegee om voorbereidings te tref om die prosedureel foutiewe werk van die parlement se konstitusionele hersieningskomitee onder regterlike hersiening te neem. Die komitee het Donderdag aanbeveel dat die Grondwet gewysig word om onteiening sonder vergoeding (OSV) toe te laat – nasionalisering met ’n ander naam. So ’n wysiging sal rampspoedige ekonomiese, maatskaplike en politieke gevolge vir alle Suid-Afrikaners hê.
Meer as 720 000 skriftelike voorleggings is aan die komitee gestuur, waarvan omtrent 80% teen OSV gekant is. Die komitee het versuim om hierdie opmerkings te oorweeg en het waarskynlik sy OSV-aanbeveling gedoen sonder dat hy na 99,9% van hierdie kommentaar gekyk het. Die komitee is egter konstitusioneel verplig om te luister na en ag te slaan op wat Suid-Afrikaners oor die OSV-aangeleentheid gesê het. Maar die regering was nooit opreg met sy oproep tot openbare deelname nie en ek het dit op goeie gesag dat die ANC hom tot ’n konstitusionele wysiging verbind het voor die eerste skriftelike en mondelinge voorleggings ontvang is.
Diegene wat gedink het dat hulle met die ANC sou kon onderhandel, ’n gemeenskaplike terrein sou kon vind en ’n konstitusionele wysiging sou kon voorkom, was naïef. Die regering het hulle eenvoudig op ’n dwaalspoor gelei met versekerings terwyl hulle teen hulle aan die saamsweer was. Vergelykings met Piet Retief se lot in 1838, waar hy en sy geselskap te midde van onderhandelings vir ’n grondgebiedsverdrag met Dingaan op sy bevel doodgeslaan is, is nie onvanpas nie.