Sê-vra kollega Milanie: “Afrikaans het mos 13 dialekte?” toe ons oor die veelkantig- en kleurvolheid van Afrikaans gesels.
In die sosiolinguistiek (variasietaalkunde) word die sistematiese verskeidenheid in tale bestudeer, insonderheid die sogenaamde lekte (variëteite) van ’n taal. Die term “lek” is ’n truvorming van die woord “dialek” en slaan terug op die Griekse “legein”, wat “om te praat” beteken. Ons gebruik deserdae “lek” as oorkoepelende term om weg te kom van die negatiewe konnotasies van “dialek” (wat in die verlede as minderwaardig teenoor die standaardtaal gestel is).
Onder die sambreelterm “lek” onderskei ons verskillende vorme van ’n taal: chronolekte, etnolekte, regiolekte, geolekte en sosiolekte.