Ten einde Julius Malema privaat te kan vervolg, sal AfriForum eers ’n nolle prosequi-sertifikaat van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) moet bekom, sê ’n kenner van die Suid-Afrikaanse strafreg.
Die sertifikaat dien as amptelike bevestiging dat die NVG daarvan afstand doen om iemand te vervolg, en dit moet uitgereik word voordat enigiemand private vervolging kan instel.
AfriForum het Donderdagoggend aangekondig dat adv. Gerrie Nel, hoof van sy private vervolgingseenheid, die EFF-leier privaat gaan vervolg weens beweerde bedrog en tenderkorrupsie as die NVG die saak teen Malema nie herinstel nie.