Drie oudbestuurders van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), wat na bewering vertroulike gesprekke afgeluister het, het Vrydagoggend vlugtig in die landdroshof in Pretoria verskyn.
Ivan Pillay (64), Andries Janse van Rensburg (53) en Johann van Loggerenberg (49) het verskyn op aanklagte van oortredings van die Wet op die Reëling van Onderskepping van Kommunikasies en Verstrekking van Kommunikasie-verwante Inligting (Rica) en die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Poca), alternatiewelik korrupsie.
Hulle word daarvan beskuldig dat hulle die gewese Skerpioene en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) van 2006 tot 2007 afgeluister het.