Suid-Afrika kan miljoene van sy bome verloor as wetenskaplikes nie gou ’n manier vind om ontslae te raak van die stompkopkewer nie. Dié kewer, wat hom die afgelope paar jaar hier tuisgemaak het, besmet die bome met ’n fungus wat hulle laat vrek.
Op die oomblik is die grootste besmetting in Johannesburg, Knysna en George. Duisende bome word geraak.
Prof. Wilhelm de Beer van die Bosbou- en Landbou-biotegnologie-instituut (Fabi) aan die Universiteit van Pretoria sê bome op sypaadjies en in private tuine, landbougewasse (soos avokado- en pekanneutbome) én inheemse woude is kwesbaar.