‘Groen’ wyne soms baie gesog

Vandag se onderwerp handel nie oor omgewingsvriendelike wyne nie, maar eerder die groen aroma wat ’n mens in sekere wyne kry.

Beskrywings van groen aroma in wyn sluit in groen soetrissie, aspersie, gras en groenboontjies. Die chemiese komponent verantwoordelik vir hierdie beskrywings is metoksipirasiene, of eerder net MP.

Soos met die meeste vrugte is die groen geure teenwoordig aan die begin van rypwording en neem mettertyd af namate die vrug ryp word. Dieselfde met wyndruiwe – die konsentrasie van MP is hoog tydens deurslaan (wanneer die korrel se kleur begin verander) en neem af tydens rypwording.

By sekere kultivars is MP steeds teenwoordig in hoë konsentrasies wanneer die druiwe geoes word en word dit oorgedra in die wyn waar ’n mens dit sensories kan waarneem.

Die groen karakter kan ’n gesogte eienskap in sekere wyne (sauvignon blanc) wees terwyl dit in ander (gewoonlik rooi kultivars) heeltemal taboe is. Rooi kultivars wat soms onderhewig is aan verhoogde MP-vlakke sluit in cabernet sauvignon, cabernet franc, merlot en pinot noir. Dit kom meer gereeld in wit wyne voor wat van veral sauvignon blanc-druiwe gemaak word, maar so ook chenin blanc en semillon. Uiteindelik is dit die konsentrasie MP in die wyn wat gaan bepaal of die geur voordelig of nadelig is. Dit is nie ongewoon om sauvignon blanc-wyn te kry wat ’n uiters prominente groen soetrissiegeur het nie.

Inteendeel, MP word beskou as ’n “impak-komponent” in sauvignon blanc. ’n Impak-komponent is ’n komponent wat in lae konsentrasies teenwoordig is, maar ’n baie kragtige aroma ten toon stel. MP is so sterk dat slegs ’n paar druppels daarvan ’n Olimpiese grootte swembad na soet groenrissie kan laat ruik.

Daar is verskillende kampe van voorkeure. Baie verbruikers hou van ’n intense groen aspersie-aroma in hul wyn, waar ander dit nie kan verdra nie. Die meeste wynmakers poog om ’n balans tussen ryp vrug en groen aroma te handhaaf, wat soms ’n uitdaging kan wees aangesien die verwydering van MP nie ’n maklike taak is nie. Inteendeel, MP is baie stabiel in wyn met die gevolg dat dit lank in wyn bly en nie met veroudering afneem nie.

In die geval van ’n gebalanseerde wyn (kombinasie van ryp vrug en groen aroma), sal die aroma-samestelling mettertyd merkwaardig verander.

Vars, rypvrug-karakters is nie noodwendig stabiel nie en die sinergie wat in die wyn was tydens bottelering is dus nie meer teenwoordig ná ’n paar jaar van veroudering nie.

Wat dan oorbly is die stabiele MP, dikwels (in kombinasie met ander verouderingskomponente) die oorsprong van gekookte groenboontjie-aroma.

Verhoogde vlakke van MP word gewoonlik in koeler wynbougebiede aangetref. Die hoeveelheid MP in die druiwe kan deur die wingerdboukundige beheer word deur die blare rondom die trosse te verwyder.

MP is ligsensitief en deur die trosse aan sonlig bloot te stel kan ’n mens die MP-konsentrasie in die korrel verlaag.

Groen liefhebbers kan dus uitkyk vir die genoemde kultivars uit koeler streke en sekere sleutelwoorde op die etiket is ook ’n aanduiding van beduidende konsentrasies MP in die wyn.

’n Uiterste groen wyn kan waardeer word vir wat dit is – dit hou die seleksie en verskeidenheid van beskikbare wyne interessant!


V
Dr Carien Coetzee het haar doktorsgraad in wingerd- en wynkunde aan die US verwerf met ’n fokus op oksidasie in sauvignon blanc-wyne en die aromatiese boustene en hul stabiliteit.

besig om te laai... Regstreeks
Bangladesh 465/10
Sri Lanka 397/10 & 39/2
Rand - Dollar
16.06
-0.9%
Rand - Pond
19.83
+0.3%
Rand - Euro
16.82
-0.2%
Rand - Aus dollar
11.19
-0.1%
Rand - Jen
0.13
-1.9%
Goud
1,819.39
+0.2%
Silwer
21.43
-0.9%
Palladium
1,998.00
-2.8%
Platinum
939.00
-1.8%
Brent-ruolie
111.93
-2.1%
Top-40
62,494
-0.9%
Alle aandele
69,083
-0.9%
Hulpbronne 10
71,795
-1.4%
Industriële 25
76,804
-1.3%
Finansiële 15
16,026
+0.8%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos