Die jongste statistieke van die verbandtussenganger BetterLife Home Loans toon ’n aansienlike styging in die persentasie huislenings wat die afgelope 12 maande toegestaan is vir bedrae van meer as R900 000, die nuwe drumpel vir hereregte wat in Februarie in die begrotingsrede aangekondig is.
Shaun Rademeyer, uitvoerende hoofbestuurder van BetterLife, sê dié syfers toon dat 47% van die lenings wat in die jaar tot einde Februarie toegestaan is in hierdie kategorie val. Dit is vergeleke met 43,5% in die vorige 12 maande.
Die gemiddelde nasionale koopprys was R1,1 miljoen, wat ’n 9%-styging van jaar tot jaar verteenwoordig.
“Van die lenings wat in die pryskategorieë bo R900 000 toegestaan is, het die grootste persentasie (26%) gegaan aan kopers wat vir tussen R900 000 en R1,5 miljoen gekoop het, 15% in die prysklas R1,5 miljoen tot R2,5 miljoen en 6% aan kopers wat meer as R2,5 miljoen bestee het.
“Dit is ’n sterk aanduiding van die toenemende vertroue van kopers in hierdie hoër pryskategorieë, veral as ’n mens in ag neem dat dit hoofsaaklik bestaan uit herhaalkopers wat groot bedrae van hul eie geld vir hierdie transaksies gebruik.”
Rademeyer sê BetterLife-statistieke toon verder dat daar oor die afgelope 12 maande tot einde Februarie ’n styging was in die persentasie kopers wat deposito’s gelykstaande aan 30% of meer van die koopprys betaal het.
“Die persentasie lenings wat toegestaan is aan kopers met deposito’s van 40% of meer het trouens oor die afgelope twee jaar gestyg vanaf 11,5% tot 13,2%.
“Terselfdertyd het die persentasie lenings wat toegestaan is aan kopers wat deposito’s van tussen 10% en 20% van die koopprys betaal het vanaf 24,3% tot 22,5% gedaal.
“Die ander kant van die saak is dat daar steeds ’n jaar-na-jaar-afname was in die persentasie lenings wat toegestaan is vir huispryse in die kategorie onder R900 000. Dit dui op ’n afname in bekostigbaarheid onder kopers in hierdie prysklas.
Die kategorie bestaan hoofsaaklik uit eerste kopers in hul 20’s en 30’s met ’n huishoudelike inkomste van tussen R15 000 en R40 000. Die groep mense het die afgelope 12 maande onder intense finansiële druk gekom. Dit het dit vir hulle moeilik gemaak om vir huislenings te kwalifiseer, sê Rademeyer.
“Dit is belangrik om in gedagte te hou dat hierdie struikelblok geensins hul entoesiasme vir huiseienaarskap demp nie. Dit blyk uit die persentasie huisleningsaansoeke wat eerste kopers gedurende hierdie tydperk ingedien het.”
“Daarbenewens het die gemiddelde koopprys wat die afgelope 12 maande deur eerste kopers betaal is met sowat 5% gestyg terwyl die gemiddelde persentasie van die koopprys wat as ’n deposito betaal is vanaf 11,5% tot 12% gestyg het.”
Hierdie neiging het die laaste paar maande versterk, sê Rademeyer, te midde van laer brandstof- en voedselpryse danksy ’n sterker rand en goeie reën wat die droogte gebreek het.
“Nou verwag ons dat dit verdere momentum sal kry met die hereregte-vrystelling – mits die Reserwebank in staat is om rentekoerse op die huidige vlakke te hou.”