Hanlie Retief gesels met Henke Pistorius

Henke Pistorius: “Dis skokkend, eintlik. Die kardinale vrae is nie gevra nie!” Foto: elizabeth sejake

‘Ek praat nou vir Oscar. Ek staan nou op vir my kind. Ek het te lank stilgebly. Ek het teruggestaan. Nou is dit verby.”

Skaars 24 uur ná die nasionale vervolgingsgesag se aansoek om teen Oscar se vonnis van ses jaar tronkstraf te appelleer, breek Henke Pistorius in ’n eksklusiewe onderhoud sy stilswye.

Dis die laaste strooi, sê hy, sy oë rooi van ontsteltenis.

Sy frustrasie met Oscar se advokaat, Barry Roux SC, het finaal oorgekook toe hy in die media lees wat adv. Gerrie Nel, die staatsaanklaer, in sy hofstukke aanvoer.

Volgens Nel moet die klem van die vonnis wees op die feit dat ’n mens wat agter ’n toiletdeur was en géén onmiddellike gevaar vir die beskuldigde ingehou het nie, geskiet is.

“Snert!” sê Henke. “Los om vadersnaam die geraaiery wie het waar en hoe agter die toiletdeur gestaan. As Reeva probeer wegkom het – die staat het beweer sy hardloop weg van ’n ‘gun wielding Oscar’ – sou sy in die oorkantste hoekie of teen die muur langs die deur, gaan wegkruip het. Sy sou nie ontspanne op die toilet gaan sit het nie.”

Henke het sy eie berekeninge gedoen oor die vier koeëlgate in die toiletdeur en tot ’n skokkende ander gevolgtrekking gekom, sê hy.

“Ek het die kleinste vierkant rondom die ­koeëlgate getrek, gemeet en vergelyk met die ruimte beskikbaar om te staan vir ’n persoon van 1,71 m (Reeva se lengte) langs die toilet, asook die muur agter die toilet.

“As jy kyk na die trajek van die koeëls, sien jy duidelik: As sy teen die oorkantste sy van die vertrek geskuil het, of teen die muur langs die toiletdeur – is die kans minder as 1% dat sy raakgeskiet sou wees.

“Dis ongeag die feit dat die koeëls deur die deur is op ’n hoogte laer as een meter, en almal ’n afwaartse trajek gehad het; dit sou kwalik enigiemand wat staan noodlottig kon wond. Nou, 1% is myle weg van die werklikheid wat Nel probeer skep.

Ons gee mekaar ’n druk, maar daar word nie veel gesê nie. Omdat ek die pa is, en daar’s ’n fout gemaak, ’n trágiese fout. Daar ís nie eintlik iets meer om te sê nie.

“Vader alleen weet hoekom iets só ooglopends oorgesien is. Dis vir my totaal onbeskryflik!”

Henke het sy bevindinge reeds vroeg in die hofsaak aan Roux, sy prokureur Brian Webber en sy broer Arnold Pistorius oorgedra, maar dis herhaaldelik geïgnoreer.

“Die raad wat ek gegee het, is bloot net weggevee. Die versoek wat ek gemaak het, as ’n pá, is nie op gereageer nie.”

Henke was selfs by Arnold se kantoor om met hom te probeer praat. “Ek kon nie, hy was in ’n lang vergadering.”

Hy het toe sy gevolgtrekkings breedvoerig in ’n brief uiteengesit en opgevolg met ’n telefoonoproep.

Snaaks. Snaaks. Snaaks. Sigbaar opgewerk. “Dis skokkend, eintlik. Die kardinale vrae is nie gevra nie! Ek is . . . bedonnerd daaroor, om dit sag te stel. Vies vir almal wat betrokke was. Want ek het dit gesê en wéér gesê.”

“ ’n Paar dae voor regter (Thokozile) Masipa se uitspraak het ek en Barry (Roux) uiteindelik gaan koffie drink en ek het vir hom gesê ek bekommer my dood daaroor. Toe sê ek ek hoop nie dié mistasting word nog sy achilleshiel nie.

“En toe’s dit wragtig nét so.

“Tydens haar uitspraak het regter Masipa drié keer gesê: Die toilet was so klein, Oscar het geweet as hy deur die deur skiet, sal hy waarskynlik die persoon raakskiet.

“In die appèlsaak het appèlregter Eric Leach dit herhaal en bygevoeg: ‘Jy het geweet hoe dodelik jou patrone is. Desondanks het jy besluit jy gaan skiet. Daarom verander ons dit van manslag na moord’.”

Henke se gesig vertel als. “Iets wat só totaal onwaar is, wat die hele saak ontspoor het, word toe een van die hoofargumente. Hierdie hofsaak moes nie langer as ’n dag geduur het nie. Toe word dit ’n uitmergelende drie jaar.”

Desperaat, wil Henke hom nou wend tot die regter-president. “Ek wil vir hom sê ek weet sy hof het nie verkeerd opgetree nie, maar hulle’t die verkeerde inligting gekry. Dalk stem die appèlhof saam. Sy vermoë om tot ’n regverdige besluit te kom, is gekompromitteer. Dis die laaste, finale hek vir my seun.”

Of dit enigsins ’n verskil gaan maak aan ’n reeds ligte vonnis?

“Ek weet wat dit vir mý sal beteken as ek nie skuldig bevind word aan moord nie, maar strafbare manslag.”

In die lig van Oscar se gevegsopleiding is dit heel verklaarbaar dat Oscar vier keer geskiet het, sê Henke. Hy moes die risiko neutraliseer. “Boonop moes die lawaai in so ’n klein ruimte oorverdowend gewees het.”

Op dié oomblik sluit Wollie Wolmarans, ballistiese kenner vir die verdediging tydens die hofsaak, by ons aan by die Dros in Hatfield.

Dis ’n amperse hoofkwartier vir Henke, waar hy welbekend is vir sy G&T’s, sjarme en sy Panama-hoed. Met ’n groen varingtakkie daarin.

Wollie knik en sê ’n 9 mm Parabellum “hardloop” 110 desibels. “Jy sal beslis lawaaiskade kry. In ’n klein spasie verdubbel dit. Dit neem jou sintuie oor, jy hoor waarskynlik nie eens meer die skote nie, so jy trek-trek-trek.”

Hulle wys ’n skets met die koeëltrajek. ’n Oorbekende prentjie. Toilet. Slagoffer. Koeëlgate. Alles nou vasgewoel in Suid-Afrika se kollektiewe geheue. Soos ’n koeël in sagte weefsel.

Henke: “Man, selfs al het dit 50% wyer gegaan, is dit nog nie eens 1% van die vertrek nie.”

Wollie: “Maar wat my as ballistiese deskundige die heel meeste gegrief het, was die waatlemoen . . .”

Nel het ’n video in die hof gewys waarin Oscar ’n waatlemoen met ’n grootkaliber-rewolwer flenters skiet en dan sê: “Dis baie sagter as breins.” Toe sê Nel: “Dit het ontplof, is ek reg? Wat het met Reeva se kop gebeur? Dit het ontplof.”

Dié waatlemoen het vir een van die mees ontstellende oomblikke in die saak gesorg.

Henke maak ’n lêer oop, wys ’n foto van die koeëlgate in Reeva. “Die koeëlwonde. Klein gaatjies.”

Wollie: “Alles net om persepsies te skep. Oscar skiet die waatlemoen met die kragtigste kommersiële handwapen ter wêreld: ’n 500 Smith & Wesson. Die energie wat hy verplaas is omtrent tien keer meer as die 9 mm waarmee Reeva geskiet is.”

Henke, sy oë rooi, vertel ’n vriend in Kanada, wat vroeër jare in Suid-Afrika gewerk het, het vir hom gesê “hy kry skaam só iets is toegelaat in ’n land met klassieke regsbeginsels”.

Nel en sy “misleidende leuens” moet, volgens Henke, die blaam hiervoor kry.

“Die persoonlike genot wat hy skynbaar daaruit put, is nie net ’n refleksie op wie hy is nie, maar verwyder die kritieke noodsaaklikheid van suiwer regverdige denke uit ons anders trotse regspleging. Vir enige ene om ‘jou eie tipe regspleging’ met valsheid, leuens en verdraaide ‘feite’ te laat geld, hou geen voordeel in, of dra nie by tot die uitbou van ons trotse, Romeins-Hollandse reg nie.”

Tydens die hofsaak is Henke selde in hof GD opgemerk. Nooit was hy deel van die soliede Pistorius-familiery – Arnold, sy vrou, Loïs, Oscar se broer, Carl, en sus, Aimée, – reg agter Oscar nie.

Daar’s al baie bespiegel oor Henke se afwesigheid. Hy’s immers self ’n opgeleide regsgeleerde (al het hy nooit gepraktiseer nie), ken
Brian Webber al 40 jaar.

Toe ek hom vra hoekom hy hom so eenkant gehou het, wil-wil hy antwoord, maar bedink hom.

“Ek hoef nie myself te verdedig dat ek ’n afwesige pa is nie. Laat hulle maar so sê. Maak nie saak nie.”

Wat mense nié weet nie, was dat Henke dikwels die saak in die advokatekamers, twee geboue weg, gevolg het. “Ek het Barry en Oscar voor en ná die sitting daar gekry.”

Die mediastormloop was vir hom te erg, sê hy. “Partykeer, as ek terugkom van die kafeteria, het ek daai suikersakkies met die boodskappies op, saamgedra.

“As ’n kameraman sy mikrofoon in my gesig druk, het ek vir hom dié suikerboodskappie gegee en geloop,” glimlag hy ingenome.

Die hegte verhouding tussen sy kinders en Arnold en Loïs het ontstaan in hul hoërskooljare. “Ek het toe baie in Afrika gewerk, en Loïs het hulle gereeld naweke oorgenooi. Sy’t altyd vir my gesê: ‘As jou seuns hier is, voel ek soos ’n vrou, hulle het mooi maniere, ek word reg behandel,’ wat vir my baie nice was.

“En uit die aard van die saak, omdat Arnold ingestaan het vir Oscar se rekening, is daar meer na hom geluister. Ek het vertroue in hom gehad, hy’s ’n baie knap sakeman.

“Ek is deel van die familie, ons gaan eet saam uit. Maar ek en Arnold is nie meer na aan mekaar nie, soos toe ons as skoolmaats saam aangejaag en slae gekry het. Prioriteite en smake het begin verskil, dis al wat ek kan sê.”

Daar’s in die hof getuig oor Henke en Oscar se stram verhouding. Met die borgaansoek het Henke uitgereik na Oscar, en Oscar het ten aanskoue van dosyne kameras die verbaasde pa in sy pienk hemp geïgnoreer.

“Ek weet nie of hy my gesien het nie. Of . . . daar was ’n klomp emosies in daai stadium. As hy bewoë gevoel het, sou ’n drukkie hom dalk laat huil het. Hy’t dalk net probeer keer.”

Hy het Oscar ’n paar keer gaan sien in die tronk, knik hy. Maar die lang, oopmaak-gesprek tussen pa en seun waarop hy so hoop, het nooit gebeur nie.

“Ons gee mekaar ’n druk, maar daar word nie veel gesê nie. Omdat ek die pa is, en daar’s ’n fout gemaak, ’n trágiese fout. Daar ís nie eintlik iets meer om te sê nie.”

Oscar is ’n kêrel wat nie foute maak nie, sê die pa. En die Pistorius-familie het nie ’n hoë toleransievlak vir foute nie.

“Sy grootste straf wat hy gaan dra vir die res van sy lewe: Hy is verantwoordelik vir die dood van sy liefling. Méér kan jy my kind nie straf nie. My seun moes niks meer as straf vir manslag gekry het nie.”

Alleen in die advokatekamers het dit vir Henke partykeer gevoel sy hart skeur om Oscar so gebroke en stotterend in die hof te sien, vooroor gebuk oor ’n groen plastiekemmer.

“Dan is daar nog swape, sotte en dwase wat sê hy’t toneel gespeel. Wat sê ‘Ag man, hy moes ’n Oscar gekry het!’

“Ek kan dit nie anders beskryf as verwoestend nie. En wragtigwaar . . . dis so onregverdig, want hy’t ’n fout gemaak.”

Die integriteit, morele vesel van ons samelewing, was langs Oscar in die beskuldigdebank, sê hy. “My hare het eendag regop gestaan toe ek dit besef: Jy hoor die internasionale media, vingers heeltyd tikkend op skootrekenaars, maar in die uur lange getuienis van Rotary oor Oscar se hulp aan landmynslagoffers in Mosambiek en Angola, was dit doodstil. Die mooi kant van Oscar was onbelangrik, hulle wou net die gory uitgrawe.”

Hy onthou hoe Oscar, seuntjie nog, saans nadat hy gebad is, kom nagsê. “Dan loop hy so versigtig soos iemand oor dorings, sonder sy prostese, en maak of hy aan die slaap raak by my, eerder as om terug te stap. Toe het hy 25 kg geweeg, tydens die voorval het hy 97 kg geweeg, en die vel op sy hakke was nie dikker nie. Inteendeel, met sy atletiek het die een velletjie half afgetrek.”

Oor die gerugte dat Oscar destyds by Pretoria Boys High op die gras op sy stompies baljaar het, sê hy gras is sag, ’n mat is kliphard – groot verskil.

Hy onthou, emosioneel, Oscar se eerste 11 maande, toe hy en Sheila, Oscar se ma, 11 spesialiste gesien het om ’n plan met dié kind se misvormde beentjies te probeer maak.

“Dis eintlik ’n ding wat my dryf om ’n boek te skryf,” vertel hy aangedaan. “Dis ’n tere tyd, want jy’t ’n ma wat wondbaar is, haar kind word beskou as gestrem. Ek het hoeveel keer snags die kombuistelefoon gebruik om met dokters in Amerika te praat, net om by iets positiefs uit te kom.”

“Ek het gesien as hy terugkom van skool af en hy kruip half weg, die kant toe, daai kant toe, dan gaan sit jy maar by hom en gee ’n druk. Preek: Moenie kwaad word nie, kinders doen dinge sonder dat hulle dit bedoel. Als kom terug tot by een ding: ’n Gebrek aan inligting.”

En dis nou ook so: ’n Gebrek aan inligting. En dit gee hom hoop. “Daar’t te veel dinge in Oscar se lewe gebeur wat ‘onregverdig’ is – hy moes deur dié realiteite sien en sê: Ek’s groter as dit, ek gaan aanbeweeg.”

Dit laat hom beter voel dat Oscar effens beskerm is in die hospitaaleenheid van die tronk. “Maar dit bly nie maklik nie. As jy nie as familie dinge bymekaar hou nie, is dié proses vernietigend vir almal.”

Toe Oscar ’n paar maande gelede die gier kry om ’n tuintjie te begin by Arnold-hulle se huis, het Henke vir hom groentesaad gaan koop. “Net so bietjie wat jy moet terugkry wat aards is wat groei, wat gesond is, wat skeppend is.”

As hy van Aimée praat, gloei hy van trots. “Aimée beteken geliefd deur God, voltooi hy my sin. “Aiméetjie is nou terug in Londen. Ek is baie, baie trots op haar. Die twee seuns het altyd gesê as ek soek vir ’n brein in die familie, dis Aimée. En ek’t hulle altyd geantwoord, en julle twee het breins én luiheid.”

Aimée moes uit haar pos by Investec bedank toe die hofsaak vir haar “bietjie baie” geraak het. Oscar het haar gebruik as kontak met die buitewêreld, en dit het ’n onnodige las op haar geplaas, sê Henke.

“Dit het ook haar verhouding met haar boy-friend beïnvloed. Investec het haar nou dieselfde pos in Londen aangebied. Fantasties.”

Carl is ’n sakeman wat, soos ’n vriend al gesê het, sand aan ’n Arabier sal kan verkwansel, lag sy pa.

Ons stap kar toe, tussen die sproeiers op die Dros se grasperk. Henke lyk bietjie Marlon Brando in The Godfather met sy swart baadjie, grys baard en hoed. Galant, loop aan die straatkant, maak die deur vir my oop.

En voor hy terugloop na Wollie toe, om weer te gaan peins oor koeëltrajekte en desibels, vra ek weer: Het dit hom gegrief dat Arnold die “pa” was in sy seun se grootste nood?

“Nee, dis nie lekker nie. Maar Arnold geniet die aandag. Ek het baie daarvan gehad in my ­lewe. Dis nie vir my ’n big deal nie. Maar ek sou dit anders wou gehad het.

“Eintlik voel ek nou weer soos met die eerste rou maande van my kind. Ek moet nou weer intree. My seun help.”

besig om te laai... Regstreeks
Dumka Daredevils 189/4
Singhbhum Strikers 65/5
besig om te laai... Regstreeks
England (w) 3/0
South Africa (w) 284/10
Rand - Dollar
15.90
-0.2%
Rand - Pond
19.50
-0.2%
Rand - Euro
16.83
-0.3%
Rand - Aus dollar
11.05
-0.6%
Rand - Jen
0.12
+0.1%
Goud
1,825.63
+0.2%
Silwer
21.31
+0.7%
Palladium
1,891.50
+1.0%
Platinum
920.00
+0.9%
Brent-ruolie
115.09
+1.7%
Top-40
62,048
+0.9%
Alle aandele
68,340
+0.8%
Hulpbronne 10
66,714
+1.9%
Industriële 25
80,512
+0.4%
Finansiële 15
15,463
+0.2%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos