Help jouself by dié bank

’n Verlaging van 20% tot 30% in bankkoste oor groter mededinging in die tradisionele bankbedryf is nie goed genoeg nie: Dit moet met meer as die helfte daal om méér mense toegang tot die bankstelsel te gee.

Johan van Zyl, mede- uitvoerende hoof van African Rainbow Capital, en Sandile Shabalala, uitvoerende hoof van TymeBank, wys trots hul geel Visa-debietkaarte van TymeBank, Suid-Afrika se eerste ten volle digitale bank. Foto: Elizabeth Sejake

Dít is waar TymeBank, die land se eerste volledig digitale bank, hom posisioneer om bankgeriewe so toeganklik en bekostigbaar moontlik te maak, sê Johan van Zyl, mede- uitvoerende hoof van African Rainbow Capital (ARC).

ARC Financial Services Holdings, ’n maatskappy in Patrice Motsepe se Ubuntu-Botho-beleggingstal, het TymeBank einde verlede jaar van die Commonwealth Bank of Australia gekoop.

ARC besit 73% van die bank, 20% behoort aan die stigterslede, en ’n personeeltrust hou 7%.

Sandile Shabalala, uitvoerende hoof van TymeBank, sê sedert toetslopies in November begin het, het reeds 80 000 kliënte bankrekenings aanlyn oopgemaak deur die TymeBank-kiosks in Pick n Pay- en Boxer-winkels.

Van dié kliënte is 38% tussen 26 en 35 jaar oud, 28% in die ouderdomsgroep 35 tot 46 jaar, en 14% tussen 46 en 55 jaar. Uiteraard doen baie van die mense al lank banksake, wat beteken van hulle kom van of is steeds by ander banke, sê hy.

Van Zyl sê hy het Dinsdag tydens die amptelike bekendstelling binne drie minute sy TymeBank-rekening geopen. Jy het geen papierdokumente en geen minimum bedrag nodig nie – net ’n selfoon. Jy volg die aanwysings op die skerm om ’n rekening te open. Sodra jy jou heldergeel Visa-debietkaart uit die masjien ontvang, skandeer jy jou duimafdruk wat dan nagegaan word volgens inligting by die departement van binnelandse sake.

Shabalala sê elke winkel het ’n WiFi-“hot spot” waarvoor TymeBank betaal en wat sy bankkliënte gratis kan gebruik om die bank-app af te laai.

TymeBank hef geen maandelikse bankgeld nie, geen aanvangskoste om ’n rekening te open nie, en geen tarief vir die uitreiking van die bankkaart nie.

Onttrekking by kasregisters is gratis, deposito’s by Pick n Pay kos R4 en onttrekkings by ander kleinhandelaars R2, en R8 by OTM’e. Die kaart kan by enige Visa-handelaar gebruik word.

Die kiosks is tans in 500 Pick n Pay- en Boxer-winkels beskikbaar en sal oor twee maande by 730 punte landwyd beskikbaar wees. Dit plaas ’n TymeBank-bankrekening binne die bereik van 80% van sy teikenmark, sê Shabalala.

Van Zyl sê hul mikpunt is 2 miljoen kliënte binne twee jaar. Dit klink hoog, maar kom neer op vyf kliënte per dag per winkel. Hy sê TymeBank sal geld maak uit baie transaksies met laer koste, en raam dat 10% tot 12% van die mikpunt-kliënte se primêre bankrekening by TymeBank sal wees.

Hy raam dat sodra die bank binnekort ook persoonlike lenings aanbied, sowat 5% van die kliënte lenings sal aangaan. Kredietkaarte en geriewe vir klein en mediumgrootte ondernemings volg later vanjaar. TymeBank se EveryDay-transaksierekening bied ’n spaargerief bekend as GoalSave waar kliënte ná net drie maande tot 10% rente per jaar op hul spaargeld kan verdien, sê Shabalala.

Sodra jy by TymeBank registreer, word jy deel van Pick n Pay se Smart Shopper-lojaliteitsprogram en kan onmiddellik by die kasregister geld deponeer, onttrek of oorbetaal. Kliënte verdien Smart Shopper-punte enige plek waar hulle hul TymeBank-kaart gebruik vir aankope, en dubbelpunte vir aankope by ’n Pick n Pay.

Richard van Rensburg, adjunk- uitvoerende hoof van Pick n Pay, sê die maatskappy kyk al lank na maniere om meer mense makliker en goedkoper toegang tot bankdienste te bied.

Van Zyl sê tradisionele banke se transaksiekoste is duur en word opgejaag omdat hulle tot 800 banktakke met personeel moet bedryf, kontant moet hou en die beste tegnologie moet inspan.

Omdat TymeBank ten volle digitaal is en van veilige wolkstoring gebruik maak, kan hy bankdienste teen ’n fraksie van die prys aanbied – tot 60% goedkoper. Deur hul vennootskap met Pick n Pay, wat toegang tot kontant het, bring hulle die bank dus na mense.

Hoewel die fokus op selfdiens is, is daar ’n oproepsentrum vir navrae.

besig om te laai... Regstreeks
Bangladesh 76/0
Sri Lanka 397/10
Rand - Dollar
16.21
-0.2%
Rand - Pond
19.85
-0.4%
Rand - Euro
16.86
-0.4%
Rand - Aus dollar
11.24
-0.4%
Rand - Jen
0.13
-0.6%
Goud
1,813.04
+0.1%
Silwer
21.44
+1.6%
Palladium
1,995.50
+2.5%
Platinum
943.50
-0.2%
Brent-ruolie
111.22
+3.4%
Top-40
62,442
+0.7%
Alle aandele
69,152
+0.7%
Hulpbronne 10
71,911
+1.6%
Industriële 25
76,935
-0.1%
Finansiële 15
15,924
+1.2%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos