Allister Coetzee het ’n vertroulike noodsein aan sy base gestuur vir onmiddellike hulp.
Ná slegs drie oorwinnings in sewe toetse sedert sy aanstelling as Springbokafrigter is Coetzee en die span in ’n vryval en is Bokrugby op ’n nuwe laagtepunt.
Rapport kan vandag onthul dat Coetzee ’n versoek tot die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) gerig het vir dringende hulp in die vorm van versterkings van sy hulpafrigters. Dié versoek word as uiters vertroulik en selfs geheim gehanteer omdat dit ’n negatiewe refleksie kan skep op die huidige afrigterskorps en hul werk.