Selfs met ’n voertuig wat die helfte minder krag as die topmotors van Stéphane Peterhansel en Carlos Sainz lewer, sê Hennie de Klerk hy’s reg vir die Dakar-veldren. Sy bakkie is op pad na Suid-Amerika, en hy volg eersdaags.
De Klerk is die enigste Suid-Afrikaanse private jaer in die motorafdeling wat vroeg volgende jaar aan die moordende Dakar-uithouren in Argentinië en Bolivië gaan deelneem. Giniel de Villiers ry vir Toyota in hul fabrieksgesteunde Hilux-span.
Oor die moordende roete van 9 000 km word die deelnemers slegs een rusdag, in La Paz, Bolivië, gegun. Die res is dag lange skofte van maklik ’n duisend kilometer per dag, as jy die afstande voor en ná elke renskof bytel.