Die politieke proses oor onteiening sonder vergoeding is swak bestuur en mense maak moeilik sin daaruit. Elmien du Plessis en Phephelaphi Dube neem die kwessie in oënskou.
Dit was ’n jaar van wipplank ry ná die ANC se 54ste konferensie waar daar op die nippertjie besluit is om weg te doen met sy beleid van “gewillige koper, gewillige verkoper” om na onteiening sonder vergoeding te beweeg.
Die jaar was ’n warboel van ’n swak bestuurde proses en die chaos wat gepaardgaan met ’n “verkiesingsjaar”. Binne die burgerlike samelewing was daar ’n redelike mate van meningsverskille oor die pad vorentoe. Kommentators op sosiale media het hul ontevredenheid met die samesprekings tussen georganiseerde landbou en hoëvlak regeringsamptenare duidelik gemaak.