Die huismark voorspel op die oomblik niks goeds vir die ekonomie nie.
Volgens John Loos, FNB se huishoudelike en eiendomstrateeg, daal huispryse nou al drie maande agtereenvolgens (vergeleke met die vorige maand). Dit is ’n betreklik betroubare aanwyser dat die ekonomie aan die sukkel is – wat kan beteken dat Suid-Afrika die derde agtereenvolgende kwartaal ingekrimp het.
Die drie maande is vir April tot Junie. Statistieke Suid-Afrika reik eers in September die bruto binnelandse produk vir die tweede kwartaal uit. Die ekonomie het reeds in die laaste kwartaal van 2016 en in die eerste kwartaal van 2017 ingekrimp, wat beteken die land is reeds in ’n tegniese resessie.