Dit het geklink soos ’n ystertrollie wat teen ’n hoë spoed by trappe afgly en toe met ’n aardskuddende slag die grond tref.
Só het ’n polisiebeampte van die Mountweg-polisiekantoor, wat nie genoem mag word nie, die oomblik beskryf toe ’n hysbak Woensdagmiddag binne dié polisiekantoor in Port Elizabeth met sewe polisie-personeellede daarbinne van die vierde verdieping tot op die grondvloer geval het. Volgens ’n betroubare polisiebron blyk dit of die kabel van die hysbak moontlik gebreek het.
Vier van die sewe mense binne die hysbak het ’n been of albei bene gebreek.