“Dit is te danke aan my dat hierdie rankplant langs die ingang geplant is,” vertel Hilda Newton met ’n glimlag waar ons voor die ingang van die Tweespruit United Church staan.
Sy vertel haar suster is voor haar in dié klipkerkie in die dorp getroud. “Op die foto’s voor die ingang was ’n lelike afvoerpyp sigbaar en ek het besluit ek wil nie dieselfde op mý troufoto’s hê nie.”
Só het dit gekom dat ’n klimop regs van die ingang geplant is. Die lelike pyp is glad nie meer sigbaar nie en die lowergroen plant is ’n mooi gesig teen die sandsteen waaruit die kerkie gebou is.